Daar is verskillende redes hoekom mense vandag nie betrokke raak nie en verkies om apaties toe te kyk hoe die wêreld by hulle verby gaan.
Dus, wanneer iemand besluit om iets daadwerkliks aan ’n situasie te doen, kry hy of sy gou heldestatus.
Morné van Jaarsveld van Malmesbury het instinktief besluit om nie toe te laat dat diewe met hul buit wegkom nie. Hy het vreesloos die diewe in sy motor agterna gesit.
Dit kan gesê word dat Morné se optrede potensieël gevaarlik kon wees omdat die diewe dalk gewapen kon wees en kon besluit het om die wapens te gebruik.
Dinge kón wel anders verloop het en as is verbrande hout. Gelukkig is Morné springlewendig en gereed om weer diewe in hul spore te stuit.
Ons is dalk nie almal so vreesloos soos Morné nie, maar ons hoef ook nie apaties skouers op te trek nie.
Die kriminele element maak staat op mense se onwilligheid om betrokke te raak. Wat as ons dit verander?
’n Vrou, wat gesien het hoe die diewe gesteelde goedere van een voertuig na ’n ander oorlaai, het foto’s geneem wat die polisie moontlik sal help om hulle vas te trek. Sy is ook ’n heldin.
Doen iets. Sê iets, want stilbly is toestemming gee, maar woorde moet opbouend wees.
Die familie, wie se dogter verlede week as vermis aangegee is, is wreed op sosiale media aangeval en veroordeel. In teenstelling met al dié skerp oordeel, het ander mense ondersteun en bemoedig. Laasgenoemdes is die helde