Niël Steyn van Malmesbury is as die land se Onnieveerder van die jaar vir 2022 aangewys.
Dít beteken hy is die onderwyser wat tegnologie en Solidariteit se skoleondersteuner-sentrum (SOS) se “wolkskool” die innoverendste in sy klas gebruik.
Niël, wat in Malmesbury grootgeword het en steeds hier woon, is die afgelope ses jaar ’n graad 7-onderwyser by die Laerskool Noord-Eind in die Paarl. Wiskunde is sy vakgebied nadat hy ook ’n honneursjaar in wiskunde voltooi het.
Die Laerskool Noord-Eind het vroeg in 2021 by Solidariteit se wolkskool aangesluit. “Aanvanklik was ek skrikkerig vir die nuwe onderrigmetode, maar vroeg verlede jaar het ek besef die program is hier om ons aanbiedings te verryk. Deesdae gebruik ek dit daagliks,” vertel Niël.
“Hierdie aanlyn lesse is alles in Afrikaans en geld vir graad 4-leerders en ouer. Dit bied aanvullende lesse vir elke vak plus hersieningsmateriaal vir toetstye. Lesse word met ’n video aangevul plus assessering om te evalueer hoe aandagtig ’n leerder geluister het. Die inhoud is baie toepaslik vir onderrig, met lekker relevante voorbeelde.”
Niël hanteer die administrasie van die program vir die skool.
“In 2021, toe ons die wolkskoolprogram aangeskaf het, moes ek elke kind registreer en ’n profiel vir elkeen skep.
“Die program is ’n groot hulp vir kinders wat ekstra aandag kort en kinders wat weens siekte klasse misgeloop het – hulle kan op aanlyn lesse inskakel en veel makliker met hul werk bybly.”
Die program dui maandeliks aan hoeveel kere elke onderwyser en leerder ingeteken het om die inhoud te gebruik, en dis op grond hiervan dat Niël as Onnieveerder van 2022 aangewys is.
Niël en sy skoolhoof, André Verhoog, het die Onnieveerder-toekenning tydens ’n spoggeleentheid in Pretoria ontvang. Niël het hiermee ook ’n lekker geldprys, geborg deur Virseker, losgeslaan. Uiteindelik was daar nog ’n verrassing, want die Laerskool Noord-Eind is ook as 2022 se topskool aangewys.
Verhoog beskryf Niël as ’n “uitstaande onderwyser – ietwat beskeie – maar iemand wat deurgaans streef na uitnemendheid”.
“Vanjaar, toe ek my kollegas aanmoedig om die program te gebruik, het hulle my geterg en gesê ek soek seker weer ’n keer daardie prysgeld,” lag Niël.
Terwyl Niël en sy vrou, Monique, hul eersteling in die winter verwag, is nog prysgeld dalk juis nie te versmaai nie.