’n Nuwe kalenderjaar lui ook ’n nuwe akademiese jaar in, gepaard met talle advertensies vir terug-skool-toe-aanbiedings.
Ná die feestyd en joligheid van die vakansie, is die grootste uitdaging en taak vir ouers van skoolgaande kinders gewoonlik die koop van skoolklere en skryfbehoeftes ter voorbereiding op die akademiese jaar.
Om skryfbehoeftes te koop, is ook iets wat onderwysers self baie kere miskyk en afskeep. Dis ’n duur, maar nodige oefening elke jaar.
’n Jong onderwyser en entrepreneur van Somerset-Wes, Shanon Simons, glo sy het die antwoorde vir beide onderwysers en leerders, met ’n inisiatief wat sy verlede maand van stapel gestuur het. Onnie Tool Box by Shannie bied onderwysers ’n pakket met die basiese nodige skryfbehoeftes en pakkette vir laerskoolkinders om die jaar op die regte noot af te skop – teen ’n sakpasprys.
Simons, ’n boorling van die Helderberg, het haar sewe jaar gelede as onderwyser by die Kaapse Skiereiland- Universiteit van Tegnologie bekwaam – ’n beroep waaraan sy as kind deur middel van haar ma blootstelling gekry het.
Hoewel sy aanvanklik as professionele danser wou werk, het sy besluit om haar liefde vir dans met haar passie vir onderwys en kinders te kombineer deur in lewensoriëntering en sakestudies te spesialiseer. As onderwyser het Simons eerstehandse ervaring van leerders en onderwysers wat sonder skryfbehoeftes in die klaskamer sukkel om op dreef te kom.
“Hulle is soms ook in die verleentheid wanneer hulle by ander ’n pen of potlood moet leen,” het dié inwoner van Victoriapark verduidelik.
“Baie onderwysers vergeet om die basiese skryfbehoeftes te koop en die meeste staatskole bied nie dié toerusting aan hulle nie.”
Die 32-jarige het die laaste sewe jaar haar passie as onderwyser by ’n laerskool in die Noord-Kaap uitgeleef, maar is weens persoonlike redes genoodsaak om byna vyf maande gelede terug na die Helderberg te verhuis. Terwyl sy vir ’n onderwyspos gesoek het, het sy met die idee vir Onnie Tool Box opgekom.
“In my tyd as onderwyser, het ek besef dat onderwysers baie keer by hul kollegas items leen, en dit kom nooit weer terug nie,” het sy vertel. “Die idee vir sakkies met die basiese skryfbehoeftes vir onderwysers het by my opgekom en ek het onmiddellik begin navorsing doen. Dit het toe gegroei om ook basiese pakkette vir leerders van graad R tot graad 7 in te sluit. Alhoewel die idee nog relatief nuut is, glo ek dat ouers en onderwysers hierby sal aanklank vind en die inisiatief sal groei.”
Die onderwysers-pakket sluit in handreiniger, twee blou, swart en rooi penne, ’n groen pen, potlood, flaterwater, witbord-merker, ’n glimpen, liniaal, skerpmaker, wisser, gom, eksamenblok, leêrsakkies, ’n pakkie sterretjies en ’n klein geskenkie teen slegs R350.
Die koste van pakkette vir gr. R-leerders beloop R200 en vir gr. 1- tot gr. 7-leerders R250.
Die leerders se pakkette sluit ook ’n lekkernye-pakkie en inkleurboek in.
“Die pakkette sal regdeur die jaar beskikbaar wees, maar is veral nou handig vir diegene wat dit nie breed het nie,” meen Simons. “Ek beplan om plaaslike skole en onderwysers te nader, sodra die akademiese jaar heropen. Dis regtig ’n maklike manier om op een slag al jou skryfbehoeftes, teen ’n billike prys te koop.”
Dié passievolle onnie beoog om vanjaar haar terugkeer na die klaskamer te maak, maar sal deeltyds ook die Onnie Tool Box-inisiatief voortsit. . Belangstellendes kan haar op die inisiatief se Facebook-blad of by 062 426 0373 kontak.