Onderwysdepartement wil taalbeleid, toegang bepaal

Afriforum is op die oorlogspad ná die aankondiging van die nuutste beoogde wysigingswetsontwerp oor skole se taalbeleid.


Afriforum is op die oorlogspad ná die aankondiging van die nuutste beoogde wysigingswetsontwerp oor skole se taalbeleid.

Die wysigingswetsontwerp is verlede week aan die parlementêre portefeuljekomitee oor die departement van onderwys voorgelê en dit kom neer op ’n staatskaping van skole, aldus dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

“Die staat wil ons skole kaap. Dit gaan die moeder van alle gevegte wees. Ons moet veg teen ’n staatska­ping van skole. Ons kinders kan nie as staatsobjekte gesentraliseer word nie,” sê Hermann oor die beoogde wetsontwerp, wat in Desember in die Staatskoerant gepubliseer is.

Daarvolgens wil die departement die gesag van die provinsiale departementshoofde versterk met betrekking tot skole se taalbeleid, asook oor die toelating van leerlinge tot openbare skole.

Luidens art. 6 van die beoogde wysigingswetsontwerp sal die departementshoof kan besluit oor ’n openbare skool se taalbeleid, wat meer as een onderrigtaal kan insluit. Skoolbeheerliggame wat nie tevrede is met die departementshoof se besluit om ’n bykomende onderrigtaal in te stel nie, kan by die LUR vir onderwys appèl aanteken. Skoolhoofde moet toesien dat die taalbeleid die breër gemeenskap dien.

Art. 5 lui die departementshoof het in oorleg met die beheerliggaam finale seggenskap oor die toelating van leerlinge tot openbare skole.

Die dokument is reeds aan die portefeuljekomitee oor basiese onderwys voorgelê wat die insette sal oorweeg en dan formeel die wysigings aan die bestaande wetgewing sal oorweeg.

Die komitee sal dan ’n verslag opstel vir oorweging deur die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies. Indien dit deur die parlement goedgekeur word, sal dit na pres. Cyril Rama­phosa gestuur word om dit te oorweeg en as wetgewing te bekragtig.

Hermann sê Solidariteit, wat insette gelewer het teen die parlementêre proses, is bevrees die ANC gaan die proses eenvoudig stoomroller.

“Daar is wyd insette gelewer, maar ons wonder of dit in ag geneem gaan word. Hulle het klaar ’n politieke besluit ingevolge ANC-beleid geneem. Hulle wil van ons openbare skole staatskole maak waar die mag by hulle gesentraliseer sal wees.”

Prof. Michael le Cordeur, visedekaan in onderrig en leer aan die Universiteit Stellenbosch se fakulteit opvoedkunde, sê hy sal versigtig wees om dit te doen wat die staat beplan.

“Taalbeleid is iets wat organies moet gebeur. Dit is iets wat vir die gemeenskap moet wees en uit die gemeenskap moet groei.”

Wat die onderwysdepartement beplan, is egter niks nuuts nie, meen Le Cordeur. “Daar was al gevalle in die verlede waar die staat taalbeleid voorgeskryf het, met gemengde sukses. Die staat het reeds op verskeie plekke taalbeleid gemanipuleer waar skole gedwing is om hul taalbeleid aan te pas. Nogtans is dit nie iets wat ek sal aanbeveel nie.”

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die onderwysdepartement, sê hy verstaan nie die teenkanting nie.

“Die wetsontwerp het gevolg op vyf jaar van uitgebreide konsultasie met alle belanghebbendes en ’n proses van openbare deelname.

“Dit is teleurstellend dat AfriForum en Solidariteit sulke stellings maak. Dis ’n hartseer toedrag van sake dat dié organisasies nóú betoog, al is hulle die geleentheid gegun om insette te lewer.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.