Old St. Blues vier 80 jaar en lei Kerskore in fliek

Old St. Blues se 80ste verjaarsdag word Sondag 27 Maart in ware styl gevier.


Old St. Blues se 80ste verjaarsdag word Sondag 27 Maart in ware styl gevier.

Dié Kersfeeskoor het reeds twee jaar gelede hierdie mylpaal bereik, maar weens die Covid-19-pandemie kan hulle dit eers hierdie jaar behoorlik vier. Feesvieringe gaan in die vorm van ’n kompetisie voorgesit word, waaraan sewe ander kore saam met Old St. Blues gaan deelneem.

“Ons gaan ook op dié dag hulde bring aan die stigters en familie van die orkes. Dit gaan ’n groot fees wees. Wat dit nog meer spesiaal gaan maak, is die feit dat die kompetisie verfilm gaan word. Dit sal deel wees van ’n fliek oor Kerfeeskore,” verduidelik Adrian Cooksen, Old St. Blues se voorsitter.

Hy is die laaste ses jaar voorsitter en is al op driejarige ouderdom aan die orkes-lewe blootgestel.

“Omdat ek in die koor grootgeword het en my ma my saam na alle koor-verwante goed geneem het, het ek ’n diep liefde vir die Kersfeeskoor ontwikkel. Alles wat ek vir die orkes doen, doen ek uit liefde,” vertel hy trots.

Sy pa was voor hom voorsitter. Cooksen sr. het oorgeneem by die orkes se stigter, Hansie Plaatjies.

“Toe die orkes begin is, het hulle met 30 lede begin. Vandag staan ons sterk met 90 lede. Ons jongste lid is agt maande oud, en ons oudste lid is ouer as 60.

“Die oudste lid speel die banjo en dis lekker dat hy nog die tradisies vir die jonger lede kan leer.”

Cooksen vertel ook hoe ’n vrou, Carol Saul, toe hy drie jaar oud was, die orkes genader het om ’n boek oor hulle en die kultuur van Kersfeeskore te skryf.

“Twintig jaar later het sy teruggekeer en ons vertel dat ’n bekende produksiemaatskappy ingestem het om ’n film van die boek te maak.

“Dit was regtig ’n wow moment vir ons. En dit is ’n groot eer vir ons om ons geskiedenis met die res van Suid-Afrika en die wêreld te deel en te wys hoe ons die tradisies voortleef,” sê Cooksen.

Hy speel die saksofoon.

Die ander orkeste wat ook later die maand gesien kan word, is Young Christians, Young Guiding Stars, Wiseman of the East, United Stars, Royal Crusaders en Crusaders Worcester.

Die verrigtinge begin Sondag 27 Maart by die Van Zyl-sportterrein om 10:00

Kaartjies vir volwassenes kos R30, vir kinders onder 12 is dit R20 en R10 vir voertuie.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.