Net soos dit een klein klippie gevat het om ‘n reus te laat val, was dit in Darling se geval een boodskap op ‘n gemeenskapsgroep om ‘n reuseprojek van stapel te stuur.
So vertel Wilmie van der Wal, ‘n plaaslike inwoner van die streek, hoe dié boodskap waarin na ‘n vrywilliger gevra word, saam met ‘n vonkie inspirasie vinnig in iets besonders vir haar tuisdorp ontwikkel het. Dít was die begin van “Oh So Darling Projects”.
Van der Wal vertel inwoners het vroeër vanjaar oor die toestand van die dorp se hoofstraat begin kla. Sy het besluit om iets daaraan te doen en vir die gewilde televisiereeks Lottoland Help ‘n Dorp in te skryf.
Tot almal se verbasing en met groot opgewondheid word Darling met R800 000 vir verskeie verfraaiingsprojekte beloon. “Wat as ‘n haastige idee begin het, het gou ‘n passievolle gemeenskapsbeweging geword om Darling weer te laat blom,” vertel sy. Die Oh So Darling Projects-
komitee is in Februarie 2025 amptelik gestig en bestaan uit toegewyde en uiteenlopende vrywilligers, naamlik Van der Wal, Lize Bester, Sharon Burger, Marius Vlotman, Florence Tango, Annetjie Kleynhans, Omnia Grobler, Charlton Philander en Megan Devan. Volgens haar bring elke lid unieke vaardighede na die tafel – van organisering en kreatiwiteit tot hande-arbeid en gemeenskapsbetrokkenheid. Hulle deel almal dieselfde droom en dit is om Darling se ruimtes mooi, lewendig en verbindend te maak.”
Een van die vier Lottoland-projekte wat die meeste harte gewen het, is Park Close – ‘n eensverwaarloosde stukkie grond wat omskep is in ‘n pragtige gemeenskapspark. Die idee agter Park Close was eenvoudig, dog betekenisvol. Hulle wou ‘n ruimte skep waar mense en natuur saam kan groei. Die span het hul inspirasie behoorlik geput uit elemente eie aan Darling, naamlik die inheemse veldblomme.”Ons wou ‘n park skep wat die kleure, patrone en skoonheid van ons natuurlike omgewing weerspieël.
Vandag spog die park met mosaïekbankies, volkome geïnspireer deur Darling se blomme-erfenis. Hier vind kuns en natuur ‘n volmaakte balans. Daar is ook nou netjies versorgde piekniekareas onder die bome waar gesinne en vriende saam kan ontspan. Met Park Close tans in die kollig, bly dié span werk aan ‘n groter droom vir Darling vorentoe. Ander voltooide projekte sluit in die vernuwing van die munisipale swembad se buitemure deur ‘n kleurvolle kunskompetisie met plaaslike skole, die versiering van Hoofstraat met muurskilderye deur plaaslike kunstenaars, en die verf van die Darling Outreach Foundation-gebou. “Elke projek vier die samewerking en kreatiwiteit wat hierdie klein, passievolle dorp definieer,” sê sy.
Die toekoms vir die projekte lyk blink soos die Oh So Darling-span reeds woeker en nuwe moontlikhede ondersoek. “Ons kyk na verdere projekte om ons dorp te bly ophef,” sê Van der Wal. “Ons doel is om die energie lewendig te hou, mense saam te bring en seker te maak elke projek wys ons liefde vir Darling. Die komitee wil inwoners aanmoedig en uitnooi om betrokke te raak en betrokke te bly, hetsy deur vrywillige bystand, idees of bloot trots te wees op die veranderinge wat om hulle gebeur en te help om dit in stand te hou.
Die inisiatief se finansiële vennoot, The Darling Trust, help om deursigtigheid en verantwoordbaarheid te verseker en skenkings kan aan die trust, met die verwysing “Oh So Darling”, gegee word.”Wanneer mense saamstaan met ‘n gedeelde doel, kan selfs die kleinste saad iets besonders word. Darling is nie net ‘n dorp nie – dit is ‘n gemeenskap wat saam blom.”


