Oerskuiling ontdek

Die Middel-steentydperk verklap die verloop van tyd waartydens moderne menslike gedrag tevoorskyn begin kom het.


Die Middel-steentydperk verklap die verloop van tyd waartydens moderne menslike gedrag tevoorskyn begin kom het.

Dit sluit onder meer kunstige en simboliese uitdrukkings, persoonlike versierings, meer gevorderde gereedskap, doeltreffende jagmetodes van groter wild en die ontginning van hul omgewing in.

Die vroegste bewyse van die mens wat seelewe en kusgebiede ontgin, kom uit argeologiese terreine wat uit dié tydperk dateer.

’n Skuiling naby die ingang van die hawe op Yzerfontein is nie net een van dié soortgelyke middel-steentydperk-terreine nie, maar volgens die nuutste tegnologie (2021) dié oudste vonds ter wêreld, vertel Rupert Joone, ’n belangstellende inwoner, lid van die Yzerfontein-toerismeburo se bestuurskomitee en fasiliteerder van die bewaringsprojek van dié vonds, wat tans onderweg is.

Die terrein staan bekend as die YFT1 en is tussen 113 000 en 120 000 jaar oud.

Die hawe se parkeerterrein en toegangsroete is vroeg in die 1980’s vergroot deur ’n gedeelte van die rotse daar weg te skiet, vertel Joone. Dit is tóé dat ’n strook sand van tussen drie tot vier meter dik, wat aan die bokant deur ’n harde kalk-gesementeerde sandkors bedek is, oopgevlek is. Nie lank daarna nie het die argeoloog dr. Graham Avery stukkies been, seeskulpe, volstruiseierdoppe en ’n paar ander artefakte, wat uit die sandlaag gespoel het, opgetel. Daar is onder meer ook tande ontdek, wat onder van die oudste Homo-Sapien-fossiele in Suider-Afrika is.

Tussen Februarie 1998 en April 1999 is nog van hierdie materiaal deur John Parkington en studente van die Universiteit van Kaapstad versamel. Danksy dié versameling is besluit om uitgrawings te doen.

Uitgrawings het byna drie jaar later – in 2002 – begin. Uitgrawings het ’n jaar later plaasgevind en elke jaar daarna totdat altesaam ses seisoene se uitgrawings oor ’n gesamentlike tydperk van 32 weke gedoen is, verduidelik Joone.

Dr. Avery, die argeoloog wat die skuiling aanvanklik ontdek het, se publikasie daaroor het in Januarie 2008 verskyn en behels die eerste vyf seisoene se uitgrawings tot 2006.

Die lede van Yzerfontein-toerismeburo se plaaslike bestuurskomitee se eerste bekendstelling aan YFT1 was ’n geologiese uitstappie in 2018.

Dr. Duncan Miller het die groep meer oor YFT1 kom vertel, maar ook verwys na die vervalle toestand van die terrein.

“Vir my was dit skokkend om te sien dat geen moeite gedoen en geen geld bewillig is om die terrein te bewaar nie,” voeg Joone by.

Die terrein is nie soos ’n oop grot wat van binne besigtig kan word nie en het weens destydse storms en hoë seevlakke toegespoel. Volgens Joone was dít egter nie ’n geldige verskoning om dié skuiling verlore te laat gaan en nie as ’n argeologiese terrein soos vele ander te laat opteken nie.

Hy het die bal onmiddellik aan die rol gesit en gedurende ’n toerismevergadering aan lede ’n projek om die terrein te herstel met die oog op latere proklamering as erfenisterrein, voorgestel. Die voorstel is aanvaar en dr. Miller is gevra om die projek te lei. “Hy het ons aan dr. Avery voorgestel, wat die skuiling oorspronklik ontdek het, en ook die argeoloog David Halkett, wat by die uitgrawings betrokke was,” sê Joone.

Die bestuur het danksy dr. Avery in Julie 2018 toestemming gekry om verdere erosie te voorkom deur sandsakke te pak waar die erosiesloot gevorm het. Talle inwoners het ingespring om te help. ’n Tydelike inligtingsbord is opgerig om die aard van die terrein te verduidelik.

Kommunikasie tussen Joone, dr. Avery, Halkett en later die antropoloog prof. Richard Klein van die Stanford-universiteit (Kalifornië), wat ook destyds by die uitgrawings betrokke was, het gevolg.



Vervolg op bl. 3

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.