O gatta patatta! Is daar iets in Wellington se water?
Groot patats word gereeld uit die plaas Vergesig se grond gehaal, maar ’n bielie van 8,19 kg, wat verlede week geoes is, het die res ver oortref.
“Dit is danksy genade van Bo dat ons so ’n reuse-oes het,” sê Riaan Mouton, die eienaar van die plaas.
“Ons het telkemale patats, wat sowat 7 kg weeg, geoes. Daar is uiteraard baie faktore wat ’n rol speel, maar snaaks genoeg het dié grote sonder ’n maatjie uitgekom.”
Patats groei normaalweg in pare wat twee-twee geoes word, verduidelik die boer.
“Ek wonder of die chemiese reaksie in die kompos, grond en water veroorsaak het dat die paartjie in een groot patat ontaard het.”
Hy was nie self by toe die knewel geoes is nie, en vertel dat sy plaasbestuurder, Bjorn Swart, die patat uit die grond getrek het.
Vir Swart was dit van skok en ongeloof omtrent ’n lagwekkende ervaring.
“Dit was ’n reuseskok, maar ook te verwagte aangesien die grond van hoë gehalte is. Patats en soortgelyke groente soek nie harde kleigrond nie. Dit wil in sagte, los, sandleemgrond groei.”
Die reus van Vergesig is intussen aan Mouton se kerk geskenk, sodat dit by die komende basaar as prys uitgeloot kan word.
Dit het gelukkig ’n taamlik lang raklewe van byna ’n maand. “As sulke groentes mooi in ’n droë en koel plek geberg word, kan dit lank hou, maar die smaakgehalte neem stelselmatig af. Boere het ook die gewoonte om dié soort groente vir 24 uur nadat dit geoes is, in die son te laat lê. Dit help om die smaak van die patat te verbeter,” vertel Swart.
Die twee boere is egter nie die enigste bobaas-groentekwekers in die vallei nie. Die bestuurder van ’n plaaslike gevangenisdiens se groentetuin pronk gereeld met ewe groot opbrengste – ’n groot bate vir die gevangenis se voedingskema, wat daarop gemik is om die gevangenisdiens selfversorgend te maak.
“Ons het by ’n vorige geleentheid ook ’n patat van sowat 8 kg geoes,” sê hy.
Sy geheim? Hy het vroeër vanjaar aan Paarl Post, susterskoerant van Gazette, vertel dat hy ander boere in die omgewing raadpleeg en hul wysheid inspan. Dan het die natuur ook sy manier om tekens uit te saai dat die grond gereed is vir plant. ’n Mens moet net luister. Of dit nou die water, die grondgehalte of die bobaas boere is – dat Wellington vrugbare grond het om groente te kweek, is seker.