Die Swartland-munisipaliteit het onlangs die eerste stappe gedoen om ’n multimiljoenrandse belegging in die ekonomie van die Swartland te verseker.

Die munisipaliteit het ’n ooreenkoms met die De Zwartland Werf-ontwikkeling vir die installering van grootmaat basiese dienste (elektrisiteit, riool, water, paaie ens.) onderteken. Dit is die eerste stap vir ’n nuwe belangrike moderne ontwikkeling wat in Malmesbury gebou sal word en sluit ’n nuwe winkelsentrum, kantoorruimte en ’n private hospitaal in.

Die nuwe ontwikkeling is teenaan die Malmesbury-skouterrein en sal ’n trekpleister wees vir plaaslike en internasionale handelsname wat reeds beplan om hulle hier te kom vestig.

Die ondertekening van die ooreenkoms en installering van die basiese dienste is die hoogtepunt van gesprekke en onderhandelings wat al langer as drie jaar aan die gang is. Die ontwikkelaars is reeds op die terrein en is tans besig met die nodige voorbereiding vir die installering van siviele dienste.

Buiten werksgeleenthede wat vir die konstruksietydperk geskep word, sal die vestiging van ’n nuwe hospitaal, winkels en ander professionele dienste meer as 600 permanente werksgeleenthede tot gevolg hê.

Die projek sal in fases geskied en volgens die beplanning sal die onderskeie fasiliteite deur die loop van 2023 voltooi en geopen word. Die ontwikkelaar, Devmak Eiendomsgroep, se verteenwoordiger, Jean-Pierre Nortier, het met die ondertekeningsgeleentheid gesê hulle kry reeds baie belangstelling van verskeie handelsmerke wat hulle hier wil kom vestig.

Harold Cleophas, die Swartland se uitvoerende burgemeester, het gesê: “Goeie en verantwoordelike regering trek belegging, en ek prys die Swartland-munisipaliteit vir die verbintenis tot skoon en ontwikkelingsgerigte plaaslike regering. Hierdie is maar die eerste van vele beleggings in die ekonomie van die Swartland. Ons wil dit wyd verkondig en beleggers laat weet – Swartland is oop vir sake!”

Hy het ook gesê: “Die finansiële inspuiting sal ons help om te voorsien aan ons inwoners se basiese behoeftes en sal hoop en geleenthede skep wat baie nodig is ná die terugslae wat ons met die Covid-pandemie beleef het.” . Nog inligting oor die projek kan verkry word by: https://www.devmark.co.za/project/de-zwartland/

You need to be Logged In to leave a comment.