Die Weskus-netbalfederasie het verlede naweek ’n suksesvolle Wes-Kaap-netbalproewe by die White City- veeldoelige sentrum in Saldanha gehou.
Toekomstige Sting / Tornado-spelers het van Kaapstad, die Overberg en die Weskus-streek gekom om deel te neem.
Volgens Marchelle Maroun, een van die keurders, was al die keurders dit eens met hul keuses Saterdag, hoewel dit nie ’n maklike taak was nie. Sy is in haar noppies met die nuwe talent wat vorendag gekom het en daar was geen tekort aan die spelers se vaardighede nie.
Maroun meen egter dit was duidelik te sien dat Covid-19 wel ’n rol gespeel het in die fiksheid van die spelers. Sy was veral in haar skik met die verdedigers wat sy gesien het.
Brandon Brand, skeidsregterbeampte, was net so trots om nasionale skeidsregters by die geleentheid te kon hê wat die wedstryde hanteer het. Die finale proewe is die afgelope Saterdag in Somerset-Wes gehou. Die uitslae hiervan was nie teen druktyd bekend nie.
Weskus-netbalfederasie wil alle spelers wat aan die proewe deelgeneem het bedank vir hul opkoms en wens hulle alle sterkte toe vir die toekoms. Verder bedank die federasie vir Laaiplek Superspar vir hul borgskap.