Groot opgewondenheid het verlede week onder inwoners geheers toe die splinternuwe munisipale swembad net betyds vir die skoolvakansie amptelik geopen is.
Die bouwerk van die swembad, wat boonop ’n sout-chlorering-stelsel vir meer omgewingsvriendelike werking gebruik, het op 26 Februarie begin. Wat begin het as ’n inskrywing op die uitvoerende burgemeester van die Swartland, Harold Cleophas, se voorkeurlys sedert sy inhuldiging in 2021, het op 6 Desember ’n werklikheid geword toe hy almal uiteindelik kon nooi om daar te kom swem.
“Hierdie projek was een van die goed op my emmerskoplys. Ek wil vandag vir die [Swartland- munisipale] raad dankie sê vir die geld wat julle goedgekeur het om hierdie swembad te kon bou.”
Cleophas het die swembad as ’n meesterstuk van wêreldgehalte bestempel. “Ek is trots op dit wat hier geskep is. Swartland kan teen die wêreld meeding. Ons hoef vir geen rede terug te staan wanneer dit by die uitdagings daar buite kom nie.
“Hierdie swembad is vir die hele gemeenskap gebou. Enigiemand is welkom om hier te kom swem,” het Cleophas benadruk.
Die nuwe swembad by die Wesbank-sportterrein in Alfastraat, is 25 m breed, 50 m lank en het ’n diepte van 1,35 m aan die vlak kant en is 1,5 m diep aan die diepste kant.
Die swembadkompleks sluit ook ’n swembad vir kleuters op die perseel in, terwyl die hoofgebou aparte ablusiegeriewe en kleedkamers vir mans en vroue beskikbaar het, insluitend geriewe vir mense met gestremdhede.
Die gebou beskik verder oor ’n kantoor vir die menseredders aan diens, een vir die opsigter, ’n stoorkamer en ’n pompkamer.
Die algehele koste van die projek was R20,26 miljoen, terwyl die konstruksie daarvan alleen by die R17,9 miljoen beloop het.