Die Suid-Afrikaanse wynbedryf is swaar getref deur die Covid-19-pandemie en dit sal nog ’n paar jaar neem om ten volle te herstel.

Uit die noodsaaklikheid vir die bedryf om te herleef, herstel en herbou het wynondernemings ’n kopskuif begin maak oor die manier waarop hulle sake doen en word bedryfsinisiatiewe met die doel om die bedryf meer lewenskragtig, aanpasbaar, mededingend en volhoubaar te maak, vinniger uitgerol.

Dít was die boodskap by die 16de jaarlikse Nedbank-Vinpro-inligtingsdag, wat Donderdag 20 Januarie deur bykans 450 virtuele en ander afgevaardigdes by die Allée Bleue-landgoed, Franschhoek, bygewoon is. Die geleentheid is die 15de jaar deur Nedbank se afdeling vir sakebankdienste geborg, met ’n finansiële bydrae deur Old Mutual.

Die landskap

“Die wynbedryf staar steeds harde werklikhede in die gesig terwyl ondernemings herstel van die nagevolge van Covid-19,” sê Rico Basson, die Vinpro-bestuurshoof.

Glastekorte, uitvoer- en invoer-uitdagings by die Kaapstadse hawe, die kontras tussen ’n styging van 15% in plaaskoste-inflasie en ’n 3% tot 5%styging in die wynprys, sowel as ’n groeiende onwettige mark, is van die uitdagings wat ’n wesenlike uitwerking op die hele wynwaardeketting het.

“Die Suid-Afrikaanse ekonomie het nie deur die hele pandemie merkbaar swakker gevaar as ander ontluikende markte nie nadat aktiwiteit in 2020 ineengestort het voordat dit in 2021 begin herstel het,” sê Nicky Weimar, hoofekonoom van die Nedbank-groep.

Die ekonomie bly egter onder die vlak voor die pandemie. Verbruikers het meer spaarsamig geword as voor die pandemie, en spaar in der waarheid meer terwyl hulle lenings in toom hou. Die verwagtings is dat ekonomiese groei vanjaar en volgende jaar onderskeidelik sowat 1,7% en 1,8% sal bly, wat na ’n sagter 1% in 2024 neig. “Ons is steeds vasgevang in die afswaaifase waarin ons was voordat Covid-19 ons getref het.”

Beleidsonsekerheid en politieke onstabiliteit binne die regerende party sal na verwagting in 2022 en daarna voortduur, maar dit bied ’n geleentheid vir verandering. “Hoe ernstiger ’n krisis is, hoe groter is die kans vir mense om wakker te word en iets daaraan te doen,” sê Mpumelelo Mkhabela, ’n politieke ontleder. “Suid-Afrikaners hou toenemend die regering verantwoordelik vir hul tekortkominge, wat positiewe verandering en stabiliteit kan meebring.”

Ondanks die uitdagings het wynondernemings voortgebeur. Die bedryf het dit reggekry om die ongekontrakteerde wynvoorraad van 200 miljoen liter aan die einde van 2020 tot 60 miljoen liter teen einde 2021 te verminder – deels deur wyndruiwe aan druiwesapkonsentraat toe te ken. Dit kan saam met ’n kleiner wyndruifoes (soos deur SAWIS beraam) afwaartse prysdruk verlig. Wynuitvoervolumes en -waarde het ook in 2021 goeie groei getoon, veral in tradisionele markte soos die VK, tesame met diversifisering na die VSA, China en Afrika.

“Hoewel ons produsente en kelders se veerkragtigheid en uithouvermoë prysenswaardig is, kan ons nie vorentoe beweeg sonder vernuwing nie. Die wynbedryf het ’n duidelike groeipad (Wine Industry Strategic Exercise) na 2025 wat, in noue samewerking met verwante staatsdepartemente en ander rolspelers, ’n omgewing vir herstel en groei sal skep,” sê Basson.

Verskerp wyntoerisme

“Wyntoerisme is een van die belangrikste dryfvere van die bedryf se strategiese groeiplan, wat daarop gemik is om internasionale besoekers te lok en wyn se plaaslike aanhangersbasis deur alle wynstreke uit te brei om inkomste te groei, werk te skep en personeel se vaardighede te verskerp,” sê Marisah Nieuwoudt, Vinpro se wyntoerismebestuurder.

Wynkelders kan hul mededingendheid verbeter deur hulself te meet aan bestaande en toekomstige wyntoerisme-intelligensiesyfers wat samestelling, besoekerstatistieke, gemiddelde spandering en meer betref.

Hou neigings van verbruikers dop

Net soos in Suid-Afrika het wêreldwye wynverkoopsvolumes begin herstel, maar nog nie tot dieselfde vlakke as voor die pandemie nie. Die wynafdeling kry egter goeie insig deur te kyk na verbruikersneigings wat verband hou met sterk groei in die verkope van geriefsdrankies (RTD’s). “Kyk veral na porsiegrootte, styl, verpakking en die feit dat RTD’s gewoonlik verkoel, gekarboneer en meestal versnitte is,” sê Lulie Halstead, uitvoerende hoof van Wine Intelligence.

Die gereelde wynverbruikbevolking neem af, maar verbruikers het ’n groter belangstelling in wyn en is meer premie-georiënteerd. Tuisdrinkgeleenthede neem toe. “Verbruikers stel toenemend belang in plaaslike en volhoubare produkte – skep dus vertroue en maak seker jou storie het ’n persoonlike verbintenis terwyl jy ook beklemtoon dat wyn ’n natuurlike produk is,” sê Halstead.

Millenniërs en Gen-Z-verbruikers is voorlopers in die drink-in-matigheid-neiging. Alkoholvrye en lae-alkoholwyne is dus hier om te bly. Die bedryf voorspel e-handelskanale sal groei en ontwikkel, met aanlyn afleweringstoeps wat meer gewild sal word en ’n doeltreffende hulpmiddel bied om handelsmerkbewustheid te bou.

Produseer vir ’n volhoubare toekoms

Wyndruifproduksie is ’n langtermynbelegging wat vir geslagte vorentoe bewaar moet word. Conrad Schutte, Vinpro se konsultasiediens­bestuurder, het slim neigings vir ’n volhoubare toekoms gedeel.

“Plant die regte kultivars vir jou wyndoel op die regte persele, terwyl jy droogtebestande onderstokke, kultivars en klone in ag neem. Gebruik water meer doeltreffend deur moniteringstelsels te gebruik wat deurlopend meet of, wanneer en hoeveel jy moet besproei,” sê Schutte.

Voortgesette beperkings op die gebruik van sekere onkruiddoders en swamdoders het produsente genoodsaak om na regenererende en biologiese beheermaatreëls te kyk. Slim wyndruifprodusente belê ook in hul mense deur opleiding soos Vinpro se jaarlikse wingerdwerkersessies en ’n opwindende aanlyn leerplatform, wat in die volgende paar maande bekend gestel sal word.

Wees inklusief en volhoubaar

“Die wynbedryf het alles wat nodig is om volhoubaarheid te dryf, maar het ’n verenigde raamwerk nodig om dit vorentoe te neem,” sê Bridgitte Backman, visepresident van kommunikasie en openbare beleid en regeringsake (PPGA) by PepsiCo.

Sy het voorgestel die bedryf en ondernemings begin deur ’n stel van die Verenigde Nasies se Volhoubaarheidsdoelwitte (SDG’s) te kies, wat binne hul konteks haalbaar is, en suksesverhale rondom dit te bou. “Afgesien van mense, die planeet en wins, moet ons die rede hoekom ons iets doen, in ag neem en hierdie elemente deel van ons DNS maak,” sê Backman.”. Suid-Afrika is ’n wêreldleier op die gebied van naspeurbaarheid en omgewingsvriendelike praktyke deur sy Wyn van Oorsprong- en Geïntegreerde Produksie van Wyn (IPW)-skemas.

You need to be Logged In to leave a comment.