Die nuwigheid van lente laat ’n mens voel asof enigiets moontlik is. Dis asof lente eenvoudig dié perfekte tyd is vir nuwe dinge.
In die besigheidswêreld gebeur nuwe dinge: ’n Opwindende nuwe motorhandelaar, Ford Lazarus, is nou amptelik oop en Perron FM begin ook uitsaai.
Na die “winterslaap” begin die sosiale geleenthede, prysuitdelings, landbouskoue en somersporte. Tennis en knortjorbyeenkomste herinner aan luilekker someraande en braaivleisvure met hout wat nie sukkel om te brand nie.
Lente is ’n ideale tyd om nuwe projekte aan te pak. Enige tydskrif wat sy sout werd is, sal ’n dieet en/of oefenprogram publiseer en haarkappers sal moet regstaan om klante se hare met sonstrepies te verfraai, want alles moet nou ligter. Hare, lyfies én leefstyle.
Lente is ’n goeie tyd om ’n positiewe gesindheid te hê en daar is min dinge so aansteeklik soos positiwiteit. Die ontvanger van ’n positiewe gesindheid sal aanvanklik onkant gevang voel, maar sou die gewer van positiwiteit deurdruk, sal dit moeilik wees om nie ’n glimlag op ’n brompot se gesig te sien nie.
Negatiwiteit is ongelukkig ook aansteeklik. Vra enigiemand wat saam met negatiewe mense moet werk of woon. Dit versprei soos ’n griepvirus. Die uitdaging vir September: wees ’n sonstraaltjie in iemand se lewe, wees die sonstrepie in iemand se dag. Dis makliker in die lente!