Nuwe ‘digby’ bekyk lewe van naby

Elmarie Stofberg se gedigte “herinner die leser aan Oosterse natuurverse: Almal is helder en deursigtig, met ’n subtiele reikwydte en resonansie”.


Elmarie Stofberg se gedigte “herinner die leser aan Oosterse natuurverse: Almal is helder en deursigtig, met ’n subtiele reikwydte en resonansie”.

Só het die digter en literator Daniel Hugo by die onlangse bekendstelling van Stofberg – van Rawsonville – se bundel digby, wat pas by Turksvy Publikasies verskyn het, gesê.

“In werklikheid bestaan daar vir Elmarie geen onderskeid tussen mens en ding nie. Dit word duidelik uit die feit dat sy natuurverskynsels soos die berge, wind, wolke, reën, son en plante personifieer – hulle dus op ’n menslike manier laat optree. Sy ervaar die natuur asof dit haar medemens is.

“Só skryf sy byvoorbeeld oor die berge wat hul woonplek tussen die Rawsonvillese wingerde omring: ‘in die laaste tyd trek die berg / al van laatmiddag se kant af / ’n kombers oor sy bene en lê dan / lank uitgestrek en wag vir die nag’.”

Terwyl haar gedigte toeganklik is, met beelde en in ’n styl waarmee die leser kan identifiseer, kom die gepaardgaande abstrakte skilderye, wat teenoor die kwatryne afgedruk is, byna geheimsinnig oor, verduidelik Hugo.

“Elmarie se gedigte lyk op die oog af eenvoudig, maar lees jy deeglik en intens, besef jy hul diepgang en trefkrag . . . en besef jy hóé beeldryk en veelseggend elke kwatryn is.”

Stofberg skryf ook oor mense wat haar pad gekruis het: “sal jy my weer vertel / van al die plekke waar jy was / jy kan maar die dele uitlos / van al die mense wat jy was”.

En oor haar ma se heengaan: “die hospitaalbed was jou skip / op ’n onstuimige oseaan / wat jou dobberend tussen lewe en dood / op jou heel laaste reis geneem het”.

Die digter, wat as taalkundige en linguïs gekwalifiseer het en deesdae by die ontwikkeling van leer- en leesprogramme betrokke is, het gesê: “Hoewel woorde my hele lewe in beslag neem, is dit nie altyd maklik om dit wat jy dink en doen, te verwoord nie. Met my gedigte én skilderye probeer ek soveel moontlik sê met so min woorde moontlik en met so min moontlik kwashale. My eerste medium was nog altyd woorde; ek het in ’n later stadium eers begin skilder.”

In haar gedigte kyk sy op ’n ongewone manier na doodgewone, alledaagse voorwerpe en gebeurtenisse, soos wat die voorblad uitbeeld: Deur net ’n “lensopening” kry die leser ’n kykie op ’n gedeelte van een van haar skilderye.

“Ek kyk na die wêreld en na die lewe van naby, van digby. Deur mý lens is beelde gereduseer tot detail. Met ander woorde – ek kyk só naby na gewone dinge, dat dit ongewoon lyk.”

Dit was in die grendeltyd, sedert 2020, dat sy gedwing is om haar tyd ten volle te benut, sê sy. “Ek het woorde in ou boeke lukraak omkring, dit uitgeknip en gedigte rondom daardie enkele woorde gebou. My skilderye het ontstaan sonder dat ek dit noodwendig vir bepaalde gedigte gemaak het. Die twee prosesse het afsonderlik verloop. Maar later het ek besef dat sekere skilderye tog by sekere kwatryne aansluit en daardie gedigte se stemming versterk – dis hoe die samevoeging gebeur het. My spel met woorde, sowel as beelde en kleure, is spontaan.”

Volgens Stofberg beskou sy haarself as ’n skeppende mens, “maar om kreatief te wees, sou nie moontlik wees sonder die stil, sterk stemme agter my nie – my man, dogters en skoonseuns”.

Oor haar lewens- en skeppingspad skryf sy soos volg in die gedig “Erken”: dit was eers toe sy terugloop op haar eie spoor / tot waar die pad gevurk het / dat sy kon erken / sy het toe tog die regte een gevat.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.