Nuwe buksie van Suzuki met baie woema en ruimte

’n Nuwe tydvak het begin by Suzuki. Net soos VW met hulle MBQ platform, het Suzuki ook nou ’n nuwe uitsonderlike lig en stewige platform geskep vir die afsienbare toekoms.


’n Nuwe tydvak het begin by Suzuki. Net soos VW met hulle MBQ platform, het Suzuki ook nou ’n nuwe uitsonderlike lig en stewige platform geskep vir die afsienbare toekoms.

Baleno is die eerste voertuig wat op dié basis ontwikkel is.

Die Baleno is groter as die uiters gewilde en bekende Swift, wat tans Suzuki se beste verkoper in SA is, en bied ’n ruim, uiters slim ontwerpte binneruim met hoë vlakke van standaardtoerusting.

Die voertuig word verkoop in meer as 30 lande regoor die wêreld.

Die splinternuwe platform is nie net spesifiek ontwerp om besonder stewig te wees nie, maar ook om die totale gewig van die voertuig te verlaag. Hoewel die Baleno groter as die Swift is, weeg die nuweling sowat 11 persent minder, dus ’n totale gewig van ongeveer 915 kg.

Charl Grobler, bestuurder van verkope en produkbeplanning by Suzuki Auto Suid-Afrika sê: “Die nuweling is veral geskik vir enkelinge en gesinne wat die bykomende gemak en gerief van ’n groter luikrugmotor verlang, maar nie die ratsheid en doeltreffenheid van die Swift wil prysgee nie.”

Die vaartbelynde voorkoms van die Baleno is nie net baie aantreklik nie – dit is ook lugdinamies effektief met ’n sleursyfer van net 0,299. Die Baleno-model is die mees lugdinamiese en doeltreffende produksiemodel wat Suzuki tans vervaardig.

Daar is drie modelle beskikbaar, Baleno 1.4 GL MT, Baleno 1.4 GLX MT en die outomatiese weergawe. Suzuki het gebly by hul uiters betroubare K14B-viersilinderenjin wat ’n krag-tot-gewig-verhouding van 76,5 kW/ton vir die handratweergawe, en 74,9 kW/ton vir die outomatiese model bied.

Ek het 5.4 F/100 km gekry gedurende die week wat ek met die Baleno gery het.

Die binneruim bied hope stoorplek, nie alleen in die paneelkissie nie, maar ook in stoorkassies in die middelste pakruimte tussen die voorste twee sitplekke, en aan die onderpunt van die instrumentpaneel. Daar is boonop bêreplekkies in elke voordeur, asook beker- en bottelhouers voor en agter.

Baleno se kajuit is 87 mm langer as die Swift se binneruim. Dit verskaf die meeste beenruimte agter in sy klas, wat regtig gerieflik is.

Die bagasieruim het ’n laaikapasiteit van 355 liter wat tot 756 liter vergroot kan word. So, die ou klagte dat ’n Suzuki nie bagasieruimte het nie, is nou ’n ding van die verlede.

Die kar bestuur ook lekker. Versnelling is doeltreffend en die Baleno is gemaklik op 120 km/h. Die remme is baie doeltreffend.

Die Baleno se onafhanklike veringstelsel voor maak van MacPherson-stutte, kronkelvere, skokdempers en ’n teenkantelstaaf gebruik, terwyl ’n wringstaaf, kronkelvere en ’n teenkantelstaaf agter gebruik word.

Die nuwe Baleno bied ’n volledige lys aktiewe en passiewe veiligheidstelsels.

Pryse wissel vanaf R199 900 tot R244 900.

Die nuwe Baleno word deur ’n standaardwaarborg van drie jaar/100 000 km gedek, asook ’n diensplan van vier jaar/60 000 km. Diens-tussenposes is elke 15 000 km of 12 maande.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.