Ouma Ruby Stelsie (87) is dankbaar dat ’n klomp mense hulle oor haar ontferm het. Foto: Rick Marais


Toe ’n plaaslike bouer ’n bejaarde tannie met haar elektriese karretjie (bromponie) sien sukkel, het hy dadelik stilgehou om haar te help, min wetende hy sou haar hele lewe verander.

Ruby Stolsie (87), of “Ouma Ruby”, soos die meeste mense haar ken, woon in ’n ou vervalle HOP-huisie in Broadlandspark in Fernstraat.

Bold van Rhyn, ’n bouer van beroep, het Ouma Ruby in Broadway-weg sowat ’n kilometer van die brandweerstasie af gesien.

“Haar elektriese karretjie se battery het pap geword en sy het al ’n halfuur in die son gesit. Dit het gelyk of die tannie half moeg was. Ek het toe iemand gebel om met die tannie te kom help. Ons het haar in my bakkie gelaai,” sê Bold.

Toe hy egter by die tannie se huis aankom, het hy eers besef hoe sleg haar omstandighede is.

“Die huis voor het nie ’n ordentlik oprit vir die tannie se karretjie nie. Binne was sake nog erger, want daar was geen krag of lopende water nie. Die toilet het nie gewerk nie. Hier was ’n klomp gate in die dak waar water by die huis ingestroom het. Dit was ’n dop. Ek kan myself nie indink hoe die tannie moes sukkel nie.”

Hy het toe ’n versoek op Facebook geplaas en mense gevra om die tannie te help. Sowat 1 500 mense het die Facebook-inskrywing gesien en baie het hulp aangebied.

Volgens Bold wil die meeste van die weldoeners nie hul name laat noem nie, maar sê hulle het Ouma Ruby gehelp omdat sy in sulke slegte omstandighede geleef het.

Van die weldoeners was besig met bouprojekte aan ander huise en het van die kaste en goed wat hulle nie gebruik het nie, vir Ouma Ruby se projek geborg.

“Ons wil die huis vir die tannie leefbaar maak. Ons het nou al die plafonne oorgedoen. Ons wil die kaste regkry en die huis só maak dat die tannie daar kan leef en met haar rolstoel rondbeweeg. Dit is ’n gesamentlike poging,” sê hy.

Ouma Ruby kon nie meer die huur by haar vorige woning bekostig nie, en is toe na die welsyn, maar weens Covid-19 kon niemand haar inneem nie.

Sy het toe twee jaar in Montagu gewoon, maar kon dit ook later nie bekostig nie en moes wegtrek terwyl al haar besittings agtergebly het.

Sy het toe in die HOP-huisie ingetrek, wat aan twee polisie-beamptes behoort, en ander mense woon agter haar in nog so huisie.

Plaaslike inwoners van die Strand sal Ouma Ruby ken, want sy het gereeld kos vir mense se partytjies gemaak. Sy het ook ’n passie vir naaldwerk, maar haar naaimasjiene is deel van haar trek wat nog in Montagu staan.

“Ons wil plan maak om haar trek te gaan haal, maar die plan is om eers die huis leefbaar te kry.”

Bold sê hulle het die kaste se oppervlaktes laag genoeg gemaak sodat Ouma Ruby in haar rolstoel kan kosmaak en rondbeweeg.

“Ek sien baie daarna uit om in dié huis te kan woon en gemaklik rond te beweeg.”

Die oprit voor die huis is nou breed genoeg vir haar karretjie om op te ry en om te draai.

“Ek is baie dankbaar,” sê Ouma Ruby.

Volgens haar lyk dinge in haar lewe nou beter omdat die werk aan die huis amper klaar is en ’n splinternuwe battery vir haar elektriese karretjie op pad is.

“Ons het met die mense wat die huis besit, ’n skriftelike ooreenkoms aangegaan wat verseker dat Ouma Ruby hier kan bly tot sy die dag nie meer met ons is nie.

“So ons sal seker kan wees as die huis nou mooi klaar is, kan Ouma Ruby ordentlik en gemaklik hier woon.

“Ek wil graag hier wegstap en weet Ouma Ruby kan in die huisie funksioneer en gemaklik leef.

“Ek wil niks terughê vir die projek nie. Ek glo daardie dag het die Here my na Ouma Ruby toe gestuur om haar te help,” sê Bold.

You need to be Logged In to leave a comment.