Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) stel sy heel eerste Oorlewing-swemsentrum in Riebeek-Kasteel bekend.
Dié inisiatief beoog om die groot verdrinkingsyfer in die land verder te takel deur kinders wat nie noodwendig toegang tot swemgeriewe het of swemlesse kan bekostig nie, te leer swem.
Volgens Andrew Ingram, die NSRI se bestuurder van die Drowning Prevention-inisiatief, moet die vaardigheid om te kan swem, ’n prioriteit word – veral onder kinders as ’n mens in ag neem slegs 15% van die bevolking kan swem.
Verdrinkingstatistiek toon verder dat sowat 800 kinders elke jaar oral in die land verdrink. Ingram sê dié sentrum in Riebeek-Kasteel gaan poog om twee kritieke probleme te konfronteer – om minder bevoorregte kinders toegang tot swemgeriewe waaroor baie gemeenskappe nie beskik nie, te bied asook gratis swemlesse.
Die Oorlewing-swemsentrum, wat ’n 12 meter lange skeepsvraghouer is, is op 11 Maart by Meiring Primêre Skool geopen. Volgens dr. Jill Fortuin, uitvoerende direkteur van die inisiatief, het die program amptelik op 28 Maart begin. Dié skool is volgens die NSRI as sy eerste afskoppunt gekies nadat die skool en sy leerders onlangs afskeid moes neem van ’n leerling wat verdrink het. Die skeepsvraghouer huisves ’n ses meter lange swembad van een meter diep om te verseker dat alle kinders gemaklik daarin kan staan. Die sentrum het ook ’n kantoor vir die sweminstrukteur asook aantrekfasiliteite. Danksy die aard van die skeepsvraghouer, kan geen toegang tot die swembad verkry word wanneer geen swemlesse aangebied word nie.
Brenton Cupido, die hoof van Meiring Primêr, sê die skool is baie opgewonde en dankbaar dat Meiring Primêr die eerste skool is wat vir die inisiatief geïdentifiseer is. Die verdrinking was baie traumaties vir hom, die personeel en die leerders, voeg hy by. “Dit is daarom krities vir ons kinders om oorlewingswemlesse te ontvang om nóg so ’n tragiese voorval te voorkom,” sê Cupido.
Die swemlesse het onder die Graad 7-leerders begin, asook twee personeellede. Die program sal voorlopig 12 maande duur, namate finansiering beskikbaar is. Die NSRI sal ná ses maande besluit of die skeepsvraghouer by Meiring Primêr bly of na ’n ander perseel verskuif word.
Sommige van die eerste onderwysers wat swemlesse gaan ontvang, sal uiteindelik as sweminstrukteurs opgelei word om ’n veilige swemkultuur in hul plaaslike gemeenskappe te bevorder.
Andrews sê die skeepsvraghouer is baie modern en pronk met die nuutste tegnologie. Ingeboude kameras stel die sentrum in staat om deur die NSRI se noodpersoneel gemonitor te word, terwyl addisionele bykomende monitors die temperatuur en die gehalte van die water reguleer.
Die skeepsvraghouer is verder so ontwerp om verplaas te word. Sonkrag maak dit moontlik dat die houer na persele wat nie noodwendig toegang tot elektrisiteitsgeriewe het nie, te skuif.