Nege in hof ná betoging

Nege mense het gister (Woensdag 22 Januarie) in die Moorreesburg-landdroshof op aanklagte van openbare geweld verskyn ná ’n geweldadige betoging die naweek.


Nege mense het gister (Woensdag 22 Januarie) in die Moorreesburg-landdroshof op aanklagte van openbare geweld verskyn ná ’n gewelddadige betoging die naweek.

Betogers het Sondagaand die N7 buite Moorreesburg gesluit in hul eise na beter dienslewering, behuising en nog ’n hoërskool. Die snelweg is met brandende bande en klippe versper.

’n Plaaslike wyksraadslid, Clive Papers se huis is ook met klippe bestook en ’n drankwinkel asook verskeie Spaza-winkels is geplunder.

Twee polisiebeamptes is lig beseer toe hulle probeer het om die betogers in bedwang te bring. Polisievoertuie is ook beskadig.

Volgens die polisiewoordvoerder, sers. Nicolette Visagie was ’n gemeenskapsaksiegroep besig om terugvoering aan die gemeenskap te gee rakende ’n griefskrif wat vroeër by die Swartland-munisipaliteit ingedien is toe ’n klein groep weggebreek en oproerig geraak het. Nog betogers het later by hulle aangesluit.

Luidens die griefskrif kla die groep oor swak dienslewering en ’n gebrek aan behuising. Hulle eis ook dat nog ’n hoërskool in hul woongebied gebou word.

Die betogers is met rubberkoeëls uiteengejaag.

Die nege mense wat gedurende die betogings in hegtenis geneem is, het Woensdag vlugtig in die hof verskyn. Die saak is uitgestel tot Dinsdag (28 Januarie) vir verdere ondersoek. Hulle bly in aanhouding.

Met navraag aan die munisipaliteit oor die griewe het ’n woordvoerder gesê die munisipaliteit bedien 11 dorpe binne die Swartland-gebied en dat die gebrek aan laekostebehuising in elke dorp as ’n “groot behoefte” geïdentifiseer is.

“Die Raad het alreeds 813 wonings gebou in Moorreesburg. In terme van die Raad se voorgestelde behuisingspyplyn sal verdere behuisingsgeleenthede ná die Malmesbury De Hoop-behuisingsprojek, in Moorreesburg ontwikkel word wat ook voorsiening sal maak vir ’n aantal GAP-behuising. Dit dien ook vermeld te word dat die voorsiening van behuising onderworpe is aan die beskikbaarheid van fondse vanaf die provinsiale departement van menslike nedersettings,” het die woordvoerder gesê.

Met verwysing na die eise vir nog ’n hoërskool het die woordvoerder gesê, “die departement van onderwys is verantwoordelik vir die implementering en bestuur, en die daarstelling van skole”.

“Die departement is daarom ook verantwoordelik om die publieke deelname proses te implementeer. Die versoek vir meer effektiewe kommunikasie met die Moorreesburg-gemeenskap aangaande die vordering van die hoërskool is reeds ook aan die departement deurgegee in ’n geïntegreerde distriksvergadering met die verskeie regerings departemente.”

Swartland Gazette het verlede jaar berig oor die hoërskool wat vir Moorreesburg beplan word wat onderrig aan 1 100 leerders sal bied (“Dorp kry hoërskool”, 10 Desember 2019).

’n Woordvoerder vir die onderwysdepartement, Bronagh Hammond het vroeër gesê ’n stuk grond is op die hoek van Land­bou­straat en Piketbergweg geïdentifiseer waar die skool gebou sal word. Bouwerk sal na verwagting vanjaar begin.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.