Natasha Booise hartseer gegroet

“Ek wil die familie verseker God is groter as die pyn, en soos Jesaja 40:1 sê, ‘die uitkoms is hier’ en niks is onmoontlik in Sy naam nie.


“Ek wil die familie verseker God is groter as die pyn, en soos Jesaja 40:1 sê, ‘die uitkoms is hier’ en niks is onmoontlik in Sy naam nie.

“Wat God doen is welgedaan, maar ek kan nie help om te wonder of God se hand hierin was nie, want Hy gee niemand die instruksie om iemand anders seer te maak nie.”

Dit was die woorde van eerwaarde E. Booys, wat Saterdag 15 Januarie die gedenkdiens van Natasha Booise (32) gelei het.

“Die nuus van Natasha het die gemeenskap geruk, haar familie gebreek en almal betreur nog die manier waarop sy gesterf het. Natasha het van geluk gesprankel en haar skielike, ongevraagde, onmenslike dood het sy nie verdien nie,” het hy die familie bemoedig.

Booise, wat op Tweede Nuwejaar na bewering deur haar polisieman-kêrel doodgeskiet is, is Saterdag by die Piketberg-sportterrein (Rhinopark) ter ruste gelê.

Terwyl die trane vrylik gevloei het, het honderde rouklaers, familielede, vriende, kollegas en gemeenskapslede na huldeblyke van verskeie sprekers geluister.

Sprekers was dit eens dat Booise met haar sagmoedigheid, verdraagsaamheid, behulpsaamheid en haar gelag maklik ’n mens se dag kon opkikker.

“Iets wat ons ook nie van haar kon wegneem nie, was haar grapperige persoonlikheid,” het Gertie Esau, ’n familievriend en Booise se destydse graad R-onderwyseres, wat die huldeblyk namens die Booise-familie gelewer het, gesê.

Esau het gesê Booise het oorgeloop van liefde vir ander en wou net altyd alles heel en mooi maak. Die geduldige Natasha het reeds sedert haar kinderdae haar liefde en besorgdheid teenoor ander gewys en het altyd besluit sy sal uithou en aanhou. Esau het gesê die manier waarop sy gesterf het, sal vir altyd by die familie spook.

Booise se seun, Lee-Hogan, wat by was toe sy ma doodgeskiet is, het vol trane op sy ouma se skoot gesit. Hy het ’n week ná sy ma se dood en ’n week voor haar begrafnis 12 jaar oud geword.

Die beskuldigde, sers. Richard Smit, het Maandag 17 Januarie weer in die hof verskyn waartydens die saak tot 17 Februarie vir ’n formele borgtogaansoek uitgestel is. Hy word steeds aangehou.

Smit het intussen ook van regsverteenwoordiger verander en het nou die bekende adv. William Booth in sy hoek om sy borgtogaansoek te hanteer.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, het bevestig meer aanklagte is intussen bygevoeg en die beskuldigde staar nou sewe aanklagte in die gesig – die moord op Booise, twee van poging tot moord, die afvuur van ’n vuurwapen in die openbaar, die hantering van ’n vuurwapen onder die invloed van ’n verbode middel en twee van aanranding.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.