Nataniël kom gou ‘huis toe’

Suid-Afrika se gunsteling-kaalkop- klong, Nataniël, tree op 19 Februarie by die NGK Wellington-Noord se saal op. ’n Optrede hiér is altyd baie spesiaal vir Natanël, want hy besoek die geliefde dorp uit sy kindertyd – Wellington.


Suid-Afrika se gunsteling-kaalkop- klong, Nataniël, tree op 19 Februarie by die NGK Wellington-Noord se saal op. ’n Optrede hiér is altyd baie spesiaal vir Natanël, want hy besoek die geliefde dorp uit sy kindertyd – Wellington.

Alhoewel Nataniël in Grahamstad gebore is, lê sy wortels diep in die Swartland waar hy in Riebeeck-Kasteel grootgeword het.

Nataniél het vandeesweek aan Gazette se susterskoerant,Paarl Post, vertel dat sy oupa en ouma in Wellington gewoon het, waar sy oupa by Hugenote Kollege gewerk het. Hulle het in die onderste verdieping van Huis Samuel gewoon.

“Ek het elke vakansie van my kindertyd daar gekuier en het Wellington en Donkiebos soos die palm van my hand geken; ook die Andrew Murray kerk – daar het ek jare later die orrel vir my ouma se begrafnis gespeel.

“My niggies en nefie het ook in Wellington gewoon – my oom het by die SAD gewerk.”

Verder vertel Nataniël dat hy kan onthou hoe hy as jong seuntjie al agter sy oupa aangeloop het – dwarsoor die hele kampus _ en ure in die klipgebou wat soos ’n kasteel lyk, en in die kelders waar daar tonne ou boeke was, gespeel het.

“Die res van die tyd was in Ouma se massiewe kombuis waar ek leer bak en kook het. Ek onthou nie die winkel nie, maar iewers in die dorp het ons elke dag die beste plaasbrood op aarde gaan koop.

“Ek het ook baie tyd in die Paarl deurgebring, waar die res van die familie gewoon het.”

Nataniël sien daarna uit om weer in Wellington te kom kuier.

Hy beloof om sy gehoor, soos altyd, te vermaak met stories, musiek en kostuums. “Ek is ’n storieverteller en sanger en dit sal nooit verander nie. Ek voer altyd goed op wat nie voorheen in die omgewing gehoor is nie.”

Hierdie heerlike vroeg-in-die-jaar-konsert bestaan uit stories in Nataniël se unieke styl, asook musiek, oud en nuut, bekend, immergroen en oorspronklik. Fantasie, humor, waarhede en wyshede, kwessies en kwellinge, vrae en antwoorde – al die elemente uit die Nataniël-skatkis – word saamgebring.

Hy deel die verhoog met die Steinway-pianis Charl du Plessis.

Koop dus nou jou kaartjies vir hierdie pragkonsert by www.seatme.co.za teen R290 per persoon.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.