‘Nana’ se lewensdoel: om te dien

’n Voormalige dwelmverslaafde het haar ou sondes agtergelaat en help deesdae ander verslaafdes, voer honger mense en is ’n gekwalifiseerde kleuterskool-onderwyser.


’n Voormalige dwelmverslaafde het haar ou sondes agtergelaat en help deesdae ander verslaafdes, voer honger mense en is ’n gekwalifiseerde kleuterskool-onderwyser.

Stephanie “Nana” Jansen is ’n inwoner van Strand en was op die randjie om haar hele lewe te vernietig toe sy deur genade gered is. “Ek is nou vir agt jaar skoon en my hele lewe het verander, maar dit was nie so op ’n tyd nie. Ek het dwelms misbruik en ek het ook met dwelms gesmokkel. Ek het as 24-jarige dwelms begin gebruik; my ma moes na my kinders kyk terwyl ek op die verkeerde pad was,” sê Jansen, wat haar 50ste verjaardag aan die einde van verlede jaar gevier het.

Haar lewe het egter ’n ommeswaai gehad en sy glo die Here het ’n plan vir haar lewe. “In 2014, nadat my hele lewe net om dwelms gedraai het, het ek ’n kerkdiens bygewoon en op my knieë voor in die kerk neergesak en my hele lewe verander. Ek het al die ou slegte dwelm-dinge agtergelaat.”

Sy het kort hierna begin studeer en vier jaar later haar kwalifikasie as ’n vroeëkinderontwikkeling (VKO)-onderwyser behaal. Jansen is tans die direkteur van die Lofland Titus VKO-forum.

Sy het besef sy moet aan haar medemens teruggee en in haar gemeenskap terugploeg deur ander te help wat ook met dwelmverslawing worstel. “Ek het by ’n ondersteuningsgroep vir dwelmverslaafdes, wat deur die Trinity Kingdom Connection-kerk aangebied word, aangesluit. Ek werk by die ondersteuningsgroep met mense wat dieselfde pad as ek met dwelms gestap het. Dis vir my lekker om die mense te kan help.”

As Jansen nie by die VKO-skool of dwelm-ondersteuningsgroep werk nie, help sy om honger magies, deur middel van ’n sopkombuis in die Beverly Hills-informele nedersetting in Strand, te vul. “Ek is lid van ’n span wat elke week ’n sopkombuis in dié gemeenskap aanbied, en ek wil graag almal wat my en die inisiatief ondersteun, hartlik bedank.”

Jansen glo dis belangrik om na mense in nood uit te reik, omdat ander haar in haar tye van nood aan die hand geneem en ondersteun het – veral toe sy byna ’n jaar gelede al haar besittings en huis in ’n brand verloor het.

“Die lewe van my kind en kleinkind is gespaar; dis deur die Here se genade dat ons gespaar is. Daarom, al het ek niks materiale besittings oor nie, wil ek steeds ander mense help – dis waarom ek op die aarde is.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.