Spokie se Dierehoekie is nie geregistreer nie en sake verloop moontlik nie elke dag volgens die boek nie. Dis waar.
Dit is ook ooglopend dat Sanette Lombard werklik ’n slag het met diere en die honde en katte in haar sorg rustig voorkom en goed versorg daar uitsien.
Word iemand met ’n goeie hart, maar nie die nodige hulpmiddele het om dit “reg” te doen nie, dus oor die kole gehaal of eerder gehelp?
Sanette vra self dat mense eerder sal help voor hulle oordeel. Sou sy alles tot haar beskikking gehad het, toegang tot die internet, betroubare vervoer, ’n span vrywilligers of werkers wat betaal word, en die situasie steeds nie ideaal wees nie, sou daar moontlik rede wees tot oordeel.
Die werklikheid is, dit is nie die geval nie, maar sy werk steeds getrou om ’n verskil te maak.
Daar is baie mense in die streek wat self behoeftig is, maar nie skroom om ander te help nie, hetsy dit ’n sopkombuis is of diere ’n beter heenkome gee. Hierdie mense wat dikwels niks vir hulself vra nie, is ’n les in nederigheid.
Dit vat nederigheid om verby die uiterlike en ’n bietjie dieper te kyk, om vanaf ons gemaklike, bevoorregte plekkie in die son ’n hand uit te steek na dié wat dit nodig het.
Sou ons dit egter nie doen nie, het ons ’n geestelik verarmde gemeenskap, maak nie saak hoe mooi dit aan die buitekant blink nie