Mr Cape Town Pride!

Robertson is die tuiste van die nuwe Mr Cape Town Pride.


Robertson is die tuiste van die nuwe Mr Cape Town Pride.

Ashwin Williams (24) is Saterdag 19 Februarie met die dié titel in Kraaifontein bekroon.

“Hierdie kompetisie was vir my ’n uitdaging, en ek hou van uitdagings. Ek onthou die beoordelaars het gesê my selfvertroue en teenwoordigheid was merkwaardig. Mense kon my nie weerstaan nie,” vertel hy tydens ’n telefoniese onderhoud met Gazette.

Dit was die eerste keer dat Williams aan so ’n tipe kompetisie deelgeneem het. “Ek is glad nie skaam oor wie en wat ek is nie. Hier in Robertson is die gay scene nie so groot nie. En ek het besluit om deel te neem aan die kompetisie om mense te wys dat ek trots is op wie ek is en dat ek nie skaam is nie.”

Hy vertel dat hy van ’n baie jong ouderdom geweet het hy is anders.

“Ek het net altyd geweet ek is gay. Daar was ook nie ’n ding van my wat moes uit kom na my ouers en familie nie. Hulle het dit ook net geweet. Ja, daar was bietjie teenstrydigheid op skool, maar ek sal nie sê mense op die dorp laat my ongemaklik voel oor wie ek is nie. Ek is baie gemaklik hier.”

Op die aand van die kompetisie, bieg hy, dat hy bietjie gesweet het van senuweeagtigheid.

“Maar toe hulle my naam as die wenner uitroep, het ek my hande in die lug gegooi as ’n manier om die Here te bedank. Die skare het ook mal gegaan en almal saam Robertson geskreeu toe hulle vir my as die wenner aankondig,” verduidelik hy.

Williams was ook die afgelope naweek vir die eerste keer by die jaarlikse Cape Town Pride-fees.

“Dit was my heel eerste keer en dit was baie opwindend. Ek was ook baie trots op myself. Ek het heel voor geloop. Dit was net lekker om al die mense daar te sien, en hoe ondersteunend almal daar teenoor gay mense was.”

As deel van sy jaarlange bewind gaan hy ook baie terugploeg in die gemeenskap.

“Daar is ’n hele paar projekte wat ek van stapel wil stuur. Ek wil beslis terugploeg in die gemeenskap. Die Pride-organisasie gaan ook projekte hier kom doen,”sê Williams.

As deel van sy bekroning het hy ’n kontantprys gewen en verskeie geskenkbewyse vir verskeie luukshede.

Williams is ook die eienaar van AJ Events, wat allerlei funksies reël.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.