ASHTON – Die gemeenskap van Ashton is in rou gedompel nadat vier inwoners van dié dorp verlede Sondagaand (23 Januarie) in ’n motorongeluk omgekom het.
’n Vyfde insittende van die voertuig is ernstig beseer en na die Robertson-hospitaal geneem.
Die ongeluk het op die R317 naby die Gelukshoop-plaas in die Bonnievale omgewing gebeur.
By navraag aan die Bonnievale-polisie het AO Meryll Africa in ’n bondige e-pos soos volg reageer: “Met die polisie se aankoms op die ongelukstoneel het die lede ’n wit Toyota Conquest in ’n diep gat aan die regterkant langs die pad aangetref. Twee liggame het buite die voertuig tussen riete gelê.”
Luidens die e-pos is nog drie mense op die toneel gevind, van wie een – die enigste oorlewende – nog in die motor was. “By verdere ondersoek, het die polisie ontdek vier mense – drie vroue en ’n man – het in die ongeluk omgekom. ’n Vyfde, ’n vrou, is in ’n ernstig toestand in die motor gevind. Sy is na die Robertson-hospitaal geneem,” lui die e-pos-verslag.
Die mense wat in die voorval dood is, is Kenneth Conradie (39), Alleta Scheepers (52), Aneke Baadtjies (29) en Hendrika Baker (62). Almal was bekende inwoners van Ashton.
Edwardia Scheepers, die beseerde, word nog in die waakeenheid van die Tygerberg-hospitaal behandel. Sy is aanvanklik in die Robertson-hospitaal opgeneem, en later na die Tygerberg-hospitaal oorgeplaas.
’n Verbyry-gedenkdiens is Woensdag 26 Januarie in Ashton vir die vier oorledenes gehou. ’n Groot skare mense het hul medelye met die oorledenes se naasbestaandes betoon. Talle inwoners van Bonnievale het ook die diens bygewoon.
Volgens die Bonnievale-polisie word die oorsaak van die voorval nog ondersoek en is nie in hierdie stadium bekend wat gebeur het nie. ’n Saak van strafbare manslag word ondersoek.