Dit was soos ’n aksiefliek wat deur die lens van sy selfoonkamera voor hom afspeel. Die selfoonvideo op Gazette se Facebookblad wat Anton du Plessis Vrydag geneem het van ontsnapte gevangenes wat in Voortrekkerstraat, Malmesbury afhardloop is teen Saterdagoggend al meer as 21 000 keer gekyk en 687 keer gedeel.
Du Plessis sê hy het net terug in die dorp gekom van Moorreesburg af toe hy ’n gewoel in die straat opmerk. “Ek het dadelik besef iets is nie reg nie,” het Du Plessis aan Gazette gesê.
Hy het in die parkeerarea van Malmesbury Toyota ingetrek en sy selfoon se videokamera aangesit om die gebeure af te neem.“Ek het eers gedink dit is net so 10 of 15 en skielik was dit net ’n deurmekaar spul. Hulle was oral. Van hulle het in hul onderbroeke rondgehardloop soos hulle van hul broeke [tronkdrag] probeer ontslae raak het.”
Van die geel broeke en sweetpaktops wat vermoedelik langs die pad deur beamptes opgetel is, het met Gazette se aankoms by die Medium B-gevangenis in ‘n hoop eenkant gelê.
Toe die skote eers begin klap en die ontsnaptes nader hardloop het Du Plessis besluit om liefs weg te kom.
In die video kan jy hoor hoe Du Plessis probeer sin maak van wat voor hom afspeel voordat hy begin ry.
Soos hy wegtrek kan mens nog die wit Hyundai-afleweringsvoertuig voor hom sien ry voor die video afslaan. Du Plessis sê hy het gesien hoe die trokkie voor hom ook met ’n spoed wegtrek en toe skielik stop.“Ek het eers gedink dit is lede van die publiek wat van die gevangenes probeer vastrek.” Hy het eers na die tyd besef die trokkie is gekaap. Die Hyundai-afleweringsvoertuig is kort daarna by die laagwaterbrug naby Amandelrug-pad gekry waar die voortvlugtiges vermoedelik uitgespring het in ’n poging om verder te voet te vlug. Hulle is egter kort daarna aangekeer. Altesaam 66 van die 69 gevangenes wat ontsnap het is intussen weer in hegtenis geneem. Daar word nog na drie voortvlugtiges gesoek.