Sy het gesterf aan die hand van ’n persoon wat veronderstel is om veral kwesbare vroue en kinders te beskerm en nou wil hy nog voorkeurbehandeling ook hê.
Só sê die gemeenskap van Piketberg oor sers. Richard Smit wat tereg staan op sewe aanklagte van onder meer moord, poging tot moord, die afvuur van ’n vuurwapen in die openbaar, die gebruik van ’n vuurwapen onder die invloed van dwelms of alkohol en aanranding. Natasha Booise (32) is op tweede Nuwejaarsdag na bewering deur haar kêrel, ’n polisieman, in Piketberg se hoofstraat doodgeskiet omdat sy verkies het om gehaltetyd saam met haar familie deur te bring.
Die voorval het voor haar seun (toe 11) en ander familielede gebeur.
Die formele borgtogaansoek sou 17 Februarie begin, maar Smit se regsverteenwoordiger, adv. William Booth, het ’n siektenota aan die hof gestuur. Die staat het aangedui dat die saak nie elke keer net uitgestel kan word nie omdat dit nie in die belang van die gemeenskap en geregtigheid is nie en het aangedui verrigtinge met of sonder sy regsverteenwoordiger sou Donderdag begin.
Die verdagte is ook oor die vingers getik nadat hy ’n versoek gerig het om eerder in die Saron-polisieselle aangehou te word. Die rede is glo dat Malmesbury se tronk te vol is. Landdros Leon Grundling het gesê ’n beskuldigde het nie die reg om voorskriftelik te wees oor waar hy aangehou moet word nie. Die borgtogaansoek is Donderdag vir die soveelste keer uitgestel vir verdere ondersoek en sal nou na verwagting op 15 Maart plaasvind. Die verdagte bly in aanhouding in Malmesbury-tronk.