‘n Tweede persoon in die Swartland het glo positief vir Covid-19 getoets.
Dit moet egter nog deur die provinsiale departement van gesondheid bevestig word. ‘n Woordvoerder van die departement het vroeër gesê dié departement kan eers ‘n positiewe geval bevestig wanneer dit deur die nasionale minister van gesondheid en die Wes-Kaapse premier bekend gemaak is.
In ‘n gesamentlike boodskap, het Swartland se munisipale bestuurder, Joggie Scholtz en uitvoerende burgemeester Tijmen van Essen gesê die tweede “beweerde” geval is “na bewering” in Moorreesburg hoewel dit nog deur “amptelike kanale bevestig moet word”.
“Ons neem die vrymoedigheid om die dorp se naam te noem omdat die persoon dit self op sosiale media aangekondig het – ‘n handeling wat ons ondersteun vir die deursigtigheid tot voordeel van almal.”
Hulle sê verder dat die protokol van nie-bekendmaking van meer besonderhede oor positiewe gevalle (identiteit uitgesluit) egter nog nie verander het nie, “ten spyte van die kollektiewe druk wat deur munisipaliteite op die besluitnemers uitgeoefen word.”
Swartland Gazette het vroeër die week reeds berig oor die eerste positiewe geval wat Sondag in ‘n ander Swartlandse dorp bevestig is. Die persoon is in selfafsondering en diegene met wie die persoon moontlik kontak gehad het is ook glo in kennis gestel.
Intussen het die totale bevestigde gevalle in Suid-Afrika Donderdagoggend (2 April) op 1380 gestaan met vyf sterftes wat aangemeld is en 50 mense wat reeds van die virus herstel het. In die Wes-Kaap het premier Alan Winde gesê dat daar gister (Woensdag) om midderdag 370 positiewe gevalle van Covid-19 in die provinsie aangeteken was. ‘n Vrou van die Wes-Kaap was ook die eerste pasiënt wat weens die koronavirus dood is.
Netwerk24 berig dat daar wêreldwyd altesaam 905 279 gevalle aangemeld is met 45 371 sterftes en 185 541 mense wat intussen herstel het. Dit sluit lande soos Italië, Spanje en die VSA in wat tans die drie hoogste sterftesyfers het en ook daagliks die meeste nuwe positiewe gevalle aanmeld.