Montagu is pas as die Wes-Kaapse dorp van die jaar as deel van Kwêla se nasionale dorp van die jaar-kompetisie benoem.
“Dit is regtig amazing; veral omdat ons nog die heersende kampioen van KFM se dorp van die jaar is,” verduidelik Mareletta Mundey, voorsitter van die Montagu- en Ashton-toerismekantoor.
Montagu, Stellenbosch en Rawsonville was die drie finaliste vir die Wes-Kaap.
“Ek was nogal ’n bietjie bekommerd omdat Stellenbosch ’n baie mooi dorp is met soveel wat hy aanbied. Ek was so opgewonde toe Kwêla ons bel om te sê die dorp is benoem.
“Dit is altyd lekker om te weet mense hou so baie van ons dorp – nie net die inwoners nie, maar mense uit die res van ons land.”
Dorpe uit al nege provinsies is in die eerste ronde van die kompetisie benoem en die publiek moes vir hul gunstelingdorpie stem.
Die Wes-Kaapse wenner was die eerste wat bekendgemaak is.
In die komende weke sal die res van die provinsies se wenners aangekondig word, asook dié in Namibië.
“Wanneer al die provinsies se wenners bekend is, kry die publiek weer ’n kans om vir hul gunstelingdorp te stem.
“Die algehele wenner sal daarna aangekondig word,” verduidelik Mundey.
Verder sê Mundey hierdie geleentheid beteken so baie vir almal in Montagu.
“Ons is regtig geseën. Hierdie benoeming en ons streek-oorwinning beteken so baie vir ons almal. Dit beteken dat ons meer voete deur die dorp sal kry met ’n groter inkomste vir al die plaaslike sakeondernemings. Almal is werklik opgewonde hieroor. Selfs die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit het ons gekontak en gelukgewens en laat weet hulle ondersteun ons en staan bankvas agter ons.”
Wanneer die stemproses weer vir die publiek geopen word, sal besonderhede oor hoe en waar om te stem, op die Montagu-Ahtom Tourism Association Facebook-blad aangekondig word.
Volg die blad om op hoogte van nuwe verwikkelinge te bly.