MONTAGU – ’n Besope vrou wat op onverklaarbare wyse haar weg tot op die speelveld verby die veiligheidswagte gevind en amper die wedstryd ontwrig het, ’n rooikaart aan ’n bestuurslid van die besoekende span deur die skeidsregter, Jerome (Trompie) van Wyk, en ’n stamp-en-stoot-stoeigeveg tussen twee vroulike toeskouers langs die veld se omheining is van die drama wat Saterdag (5 Maart) op die King Edward-sportterrein by ’n vriendskaplike wedstryd tussen Montagu-rugbyklub en Blue Birds Bonnievale afgespeel het.
Montagu het die wedstryd, waartydens al die punte in die eerste helfte aangeteken is, 15-8 gewen. Nie een van die spanne kon ná rustyd ’n enkele punt by hul onderskeie tellings voeg nie.
Verskeie redes kan hiervoor aangevoer word: verspeelde kanse, hanteerfoute, oorywerige spel asook goeie verdediging.
Ondersteuners van die besoekende Blue Birds-span sal heelwaarskynlik inkonsekwentheid deur die skeidsregter ook wou byvoeg.
Die feit van die saak is – beide spanne het maar goed onder Van Wyk se fluitjie deurgeloop, maar dit was veral die besoekers wat hul misnoeë met die skeidsregter luidkeels te kenne gegee het.
Die tuisspan het weliswaar eerste punte aangeteken toe Eric Gwimbi (slot) ná ’n dryfmaalbeweging van ’n lynstaan af in die besoekers se 22 m-gebied oorgeval en ’n drie gedruk het. Dit was nadat Cleve Malgas vroeër in die wedstryd met ’n woer-woer-skepdoelpoging misluk het.
Die doelskop deur Malgas, ná Gwimbi se drie, was mis en die telling 5-0 vir Montagu.
Die besoekers het ’n paar minute hierna teruggeslaan met ’n pragtige, langafstand-strafdoel van die middellyn af deur sy losskakel, Elton Nfundisi, wat die telling 5-3 gemaak het.
Nagenoeg op die halfuur-merk het die einste Nfundisi ’n bal wat deurgeskop is, opgepik en deurgenael om regs van die doelpale te gaan druk. Hy het egter met die doelskop gemis, wat vir ’n skopper van sy kaliber as’t ware as ’n maklike skop beskou kon word.
Sy span het na dié vyfpunter nogtans die voortou met die telling 8-5 geneem.
In die laaste paar minute voordat rustyd aangebreek het, het Montagu daarin geslaag om Blue Birds se doellyn nog twee keer oor te steek.
Eers het die vaskopstut, Du-John Swanepoel, ná nog ’n dryfmaalbeweging deur die tuisspan gaan druk, en daarna het Malgas soos ’n warm mes deur botter gesny toe hy die besoekers se verdediging geklop en met ’n mooi drie afgerond het. Al twee doelskoppe was egter mis, wat die rustydtelling op 15-8 in Montagu se guns te staan gebring het.
In die veertig minute ná rustyd het egter nie veel gebeur om oor te skryf nie, behalwe dat ’n besope vrou die veiligheidswagte gepypkan en die speelveld betree het; dat ’n Blue Birds-bestuurslid weens onwelvoeglike taalgebruik op die skeidsregter ’n rooikaart gewys en van die veld verwyder is; en dat toeskouers erg opgewonde geraak het toe twee vroue mekaar voor die pawiljoen in ’n rond-ruk-stoeigeveg getakel het.
Die onderonsie is egter gou in die kiem gesmoor.
En binne die vier wit lyne het die blaser se geduld, soos die punte in die tweede helfte, ook opgedroog. Hy het twee geel strafkaarte uitgepluk en een aan elke span gewys om die spelers vir ongedissiplineerdheid aan te spreek. Eerste aan die beurt was die Blue Birds-slot Bismarck du Toit en minute later is Montagu se binnesenter, Reagan Visser, weens ontoelaatbare spel van die veld gejaag.
Hoewel albei spanne hard probeer en verskeie kere aangeval het, kon nie een verdere punte by hul tellings voeg nie. Montagu het wel op ’n tydstip oor Blue Birds se doellyn gedryf, maar die skeidsregter het beslis die bal was nie geplaas nie en die drie is dus nie toegeken nie.
Diep in die tweede helfte het die besoekers se linkervleuel, ná goeie balhantering deur die agterlyn, met ’n kraglopie teen die linkerkantse kantlyn af genael. Hy is egter tot groot ergernis en frustrasie van die Bonnievalers teruggeroep toe die skeidsregter beslis het die aangee was vorentoe.
Die besoekers het boonop sy losskopstut, Cornel Bothma, in die punetlose tweede helfte met ’n oënskynlike rugbesering verloor. Hy is met ’n draagbaar van die veld gedra.


