Moenie ophou droom nie – drome het nie ’n vervaldatum

Drome het nie ’n vervaldatum nie; hou dus aan met droom, sê die idealis.

Sarie Nell

Drome het nie ’n vervaldatum nie; hou dus aan met droom, sê die idealis.

“Gewone” drome het geen vervaldatum nie – behalwe as jou droom is om geld te maak, sê die realis.

Want daar kom ’n dag wanneer jou geldmaak- en spaarkanse verby is, wanneer jy besef dis dít; jy moet nou regkom met daardie syfers wat in jou bankrekening staan – veral wanneer ’n pandemie en die ekonomie teen jou draai.

“Droom voort,” sê Siniese Sarels oor enigiets wat optimisties klink. Dis asof hulle bang is dat positiewe mense dalk hul donker oortuigings sal verander.

Dit het aanvanklik vreeslik onchristelik geklink toe ek lees dis belangrik om jouself van negatiewe mense te distansieer. Tog het ek weldra besef dis ’n belangrike oorlewingsmeganisme. Mense met sulke bobbejaan-agter-die-bult-geaardhede verlam jou vlerke en versmoor jou drome.

En sonder drome sterf jou gees.

’n Doel om te bereik; ’n verwagting vir beter dae, is sinoniem met suurstof vir die gemoed. Terwyl ’n mens iets het om na uit te sien, maak dit jou sterk om vorentoe te beur, selfs verby ’n oormag moeilikhede. Sonder drome is ons niks; sonder ’n verwagting vir verbetering raak die oë vaal en jou gees kaal.

Wee die mens wat met ’n oormaat swartgalligheid ’n ander se drome en hoop durf steel.

In teenstelling met sulke kanselleerders van hoop, kry ons mense wat self die lewe se agterkant beleef, maar hul wense en drome gaan eerstens oor ’n saak veel groter as hulself. Dit inspireer my as iemand wat self karig leef, hulle beywer vir projekte wat gemarginaliseerde mense of diere se belange bevorder.

So is ’n Karoo-boervrou – geknel deur die droogte en familietragedies – se grootste wens om meer bolle wol vir die nuutgestigte vereniging vir gestremdes in te samel. Sy het self sente afgeknyp sodat hierdie groeplede ’n gesellige Kersfeesafsluiting kan kry. Daarom salueer ek haar – juis omdat sy werk en droom en leef vir sake wyer as haar eie klein kring, kan sy haar mooi glimlag aanhou uitdeel, en dit in ’n dorp waar ’n voortslepende droogte die inwoners se lewensmoed by tye drasties laat daal.

“Moet tog nooit ophou droom nie, want sonder drome kan jy net sowel doodgaan,” het my ma kort voor haar dood gesê. Vandag is ek spyt ek het nie meer oor haar drome uitgevra nie.

Op ’n meer banale vlak sal ons vir mekaar kan sê: “Kyk noord en foeter voort”.

Op watter lewensvlak jy dit ook al doen – kry jou mikpunte agtermekaar en marsjeer voort. Presies soos Brittanje se 100-jarige kaptein Tom Moore kort voor sy dood in Februarie laasjaar so hartseer-mooi gesing het –

When you walk through a storm, Hold your head up high/ And don’t be afraid of the dark.

At the end of the storm, There’s a golden sky/ And the sweet silver song of the lark.

Walk on through the wind, Walk on through the rain/ Though your dreams be tossed and blown.

Walk on, walk on; With hope in your heart/ And you’ll never walk alone!

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.