Een van die vragmotors wat met ‘n petrolbom aan die brand gesteek is.

verskaf


Inwoners van Chatsworth het weer eens hul frustrasie en misnoeë uitgespreek nadat hulle vir die tweede agtereenvolgende dag in hul dorp as “gyselaars” aangehou is.

Dit glo nadat hul bure van die nabygeleë informele nedersetting, Silvertown, sedert gister die enigste hoofpad in en uit die dorpie met brandende bande versper het.

Dié groep het vroeër die dag glo by die Swartland-munisipaliteit se hoofkantoor in Malmesbury gaan betoog oor elektrisiteitsvoorsiening. Gazette verneem14 betogers is hiér in hegtenis geneem. Die groep het daarna teruggekeer huis toe en verder betoog. ’n Vragmotor is Donderdagmiddag met ’n petrolbom bestook. Die vragmotorbestuurder was na wat verneem word in die vragmotor toe die voorval gebeur het en moes deur bystanders gered word. Hy sterk steeds in die hospitaal aan.

Die paaie is ook met brandende bande versper en verbygaande motors met klippe bestook. Busse en taxi’s kon ook nie die gebied binnekom nie wat talle werkende inwoners gestrand gelaat het.

Nóg ’n vragmotor is Vrydagoggend aan die brand gesteek. Een persoon is ook in hegtenis geneem toe hy in besit van twee petrolbomme gevind is en sal binnekort in die hof verskyn, het polisiewoordvoerder, sers. Henry du Rand bevestig. Die 14 persone wat Donderdag in hegtenis geneem is sou na verwagting Vrydagmiddag in die hof verskyn. Die situasie word deur die polisie se eenheid vir openbare orde gemonitor.

You need to be Logged In to leave a comment.