Rola Mitsubishi het verlede Saterdag die nuwe Triton DC, oftewel dubbelkajuit, bekendgestel by hul Somerset Mall-vertoonlokaal, die eerste heeltemal nuwe model vandat hulle vier jaar gelede daar ingetrek het.
Daar was allerhande interessante stalletjies, insluitend ’n markie, asook ander aktiwiteite vir die hele gesin wat bygedra het tot ’n heerlike Saterdagoggend in die Helderbergkom.
Die hoofaktiwiteit was ’n kort dog opwindende toetsrit in die nuwe Triton.
Leán de Wet, die verkoopsbestuurder, is baie ingenome en opgewonde oor die nuwe Triton. Hy sê onder andere die baie ekonomiese brandstofverbruik, asook ’n besonderse stil kajuit is van die vernaamste kenmerke van die nuwe model. Hy glo dat die beste rygerief van enige dubbelkajuitbakkie een van die belangrikste faktore is wat die nuwe Triton soos soetkoek sal laat verkoop.
De Wet voel die sogenaamde “J-line”, of skeiding tussen die bak en kajuit, wat met die eerste Triton so vreemd vir Suid-Afrikaanse oë was, nou met die ietwat sagter lyne van die nuwe model, en die feit dat sommige kompeterende bakkies ook nou so ’n “J-line” het, nie meer ’n faktor in die koopbesluit gaan wees nie.
’n Groot voordeel van die “J-line” is die veiligheidsaspek van die bak wat onder die kajuit inskuif in die geval van ’n botsing van agter.
Dit is maklik om jou Triton te kies. Dit is óf ’n vyfgang outomatiese óf ’n sesgang-handrat, 4×2 of 4×4. O, en jy kan kies tussen ’n paar kleure. Maklik. So maklik dat die eerste bakkie sommer al Saterdag verkoop is.
Die nuwe 2.4 Di diesel gee jou meer as genoeg krag met 133 kW teen 3 500 omwentelings, en wringkrag van 430 Nm teen 2 500. De Wet glo die enjin is eintlik die hoogtepunt van die nuwe model.
Ons beoog om self ’n volledige toets van hierdie nuwe Triton binnekort te doen en soos hulle sê, ”hou hierdie spasie dop!”.