Op en af.

“Die misdaad ry wipplank hier.”

Só sê sers. Johnatan Filander, ’n woordvoerder van die Darling-polisie.

Diefstal, rooftogte, aanrandings en die kwaadwillige beskadiging van eiendom is tans prominent in dié gebied.

Filander het verduidelik die misdaadstatistieke in dié dorp verskil van week tot week hemelsbreed.

“Een week is dit stil en die volgende week kom meer misdaad voor,” het hy verduidelik.

“Ek glo werkloosheid is ’n bydraende faktor.”

Volgens Filander speel ’n hele paar gewoontemisdadigers gereeld kat-en-muis-speletjies in en om Darling met die polisie.

Een van die dorp se ander probleme is die koop van gesteelde goedere, wat ’n mark vir gesteelde goedere geskep het en tot diefstal en inbrake lei.

Filander sê die polisie kry goeie samewerking van plaaslike skrootwerwe, wat inligting verskaf oor verdagte artikels wat mense aan hierdie instansies probeer verkoop.

Hierdie inligting het onlangs tot ’n hele paar inhegtenisnemings weens die besit en verkoop van gesteelde eiendom gelei.

Tog wil Filander net weer alle skrootwerwe en handelaars van tweedehandse goedere waarsku om nie vir gesteelde goedere te betaal nie.

“Onwettige skrootwerwe, wat gesteelde goedere koop, gaan swaar gestraf word.”

Die polisie vra ook die gemeenskap moet hulle nie laat mislei deur opportunistiese misdadigers wat sosiale media gebruik om mense te bedrieg en te besteel nie.

“Geen geld moet betaal word vir iets wat jy nog nie in jou hande het nie,” het hy gesê.

Hy pleit ook by inwoners om saans dubbel seker te maak hul vensters en deure is behoorlik gesluit en hul alarmstelsels geaktiveer.

You need to be Logged In to leave a comment.