Talle verdagtes met ’n lang lys misdaadsake wat teen hulle hang, is onlangs deur die plaaslike polisie van Moorreesburg in hegtenis geneem.
Die verdagtes is volgens ’n plaaslike woordvoerder, AO Nicolette Visagie, weens onder meer die onwettige handel van dwelms, drank, aanrandingsake, diefstal, die besit van gesteelde goedere en dronkbestuur tussen 22 Februarie en 26 Februarie vasgetrek.
In nog ’n voorval is ’n 54-jarige beskuldigde onlangs tot 15 jaar tronkstraf gevonnis.
Romeo Boltney van Moorreesburg is Woensdag 19 Februarie vir die moord op ’n 34-jarige man, wat op 17 April 2023 in die Swartland-hospitaal aan sy wonde beswyk het, tronkstraf opgelê.
Die voorval was glo dwelmverwant.
Die speursersant wat die saak ondersoek het wat tot Boltney se arrestasie gelei het, was Daneil Mentoor.
Lede van die Piketberg-polisie het op hul beurt op Sondag 23?Februarie ’n oproep van gemeenskapslede ontvang oor ‘n onbekende man wat vermoedelik dood in Gousblomstraat lê. Met hul aankoms op die toneel is die slagoffer reeds deur nooddienspersoneel dood verklaar. ’n Vrou wat onbekend aan die slagoffer was, is kort daarna in hegtenis geneem. Die verdagte word daarvan verdink dat sy die slagoffer omstreeks 05:30 met ’n gebreekte bierbottel gesteek het, het die polisiewoordvoerder AO Silke Lourens bevestig. Die verdagte het reeds in die plaaslike landdroshof verskyn. Die saak is uitgestel tot verdere kennisgewing en die ondersoek duur voort.


