Misdaadbrokkies

Lede van die Malmesbury-polisiekantoor het die afgelope Sondagmiddag (16 Februarie) inligting ontvang dat die bestuurder van ’n wit Isuzu-bakkie in die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen is.


Lede van die Malmesbury-polisiekantoor het die afgelope Sondagmiddag (16 Februarie) inligting ontvang dat die bestuurder van ’n wit Isuzu-bakkie in die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen is.

Die betrokke voertuig is in Bokomoweg gewaar en deur die polisie voorgekeer, waarna die polisielede die voertuig deursoek en die vuurwapen opgespoor het.

Die 38-jarige verdagte het gister (Maandag 17 Februarie) in die plaaslike landdroshof in Malmesbury op aanklag van die besit van ’n onwettige vuurwapen en ammunisie verskyn, het kapt. Tania Helfrich, polisiewoordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, bevestig.

Nóg ’n verdagte is kort daarna op dieselfde dag teen omstreeks 16:45 deur die plaaslike polisie van Malmesbury in Gousblomstraat aangekeer, waartydens Khat en ’n gevaarlike wapen in sy besit gevind is.

Die verdagte het ook op 17 Februarie in die plaaslike landdroshof op die aanklag vir die onwettige besit van dwelms verskyn.

’n Klagte van diefstal is aangemeld nadat iemand by die jeugsentrum van Chatsworth ingebreek het.

Eiendom ter waarde van R4 420 is gedurende die nag van 12 en 13 Februarie uit die gebou gesteel.

Toegang is deur die kombuisdeur, wat oopgedwing is, verkry, voeg Helfrich by.

’n Bejaarde man van 66 jaar oud is die afgelope Sondagnag omstreeks 02:50 in sy huis in Hoofweg van Moorreesburg oorval.

Die inwoner het in ’n stoeigeveg met die verdagte, wat in hierdie stadium nog onbekend is, betrokke geraak.

Die verdagte het kort daarna deur die badkamervenster gevlug, maar die slagoffer het die vermeende inbreker agternagesit.

Die slagoffer is kort daarna met ’n mes gesteek.

Die verdagte het weggehardloop en is steeds op vrye voet.

Nooddienspersoneel is na die toneel ontbied, waarna die slagoffer die nodige mediese behandeling ontvang het.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.