Michaela dalk Hollywood-ster

Die agtjarige Michaela Thiart se plek in die kollig wink – vir nou lê ’n toneelkursus voor wat haar talente as ’n gebore ster verder vir die kameras sal slyp.


Die agtjarige Michaela Thiart se plek in die kollig wink – vir nou lê ’n toneelkursus voor wat haar talente as ’n gebore ster verder vir die kameras sal slyp.

Dít volg nadat Michaela vir ’n Speeltoneel-oudisie genooi is, wat boonop 1 200 aansoeke gelok het.

Haar ma, Samantha Thiart, het twee jaar gelede besluit om haar dogter vir ’n voormalige fotokompetisie, genaamd Wysneusies, in te skryf. Dit is hiér waar ABC Produksies haar gesig raakgesien het. Sy is toe deur die produksiehuis genooi om aan dié oudisies, wat op 16 Januarie by die Reddam House in Durbanville plaasgevind het, deel te neem.

Sy het baie goed gevaar, vertel Samantha.

“Sy het met selfvertroue op die verhoog gestap, asof sy dit al vir jare doen,” voeg sy by. Die monoloog wat Michaela moes voorberei, is uitstekend uitgevoer.

Dié Graad 2-leerder van Laerskool Swartland, wat byna nege is, het reeds sedert sy twee was, ’n liefde vir toneelspel getoon. Michaela het haarself gedurig in ’n karakter geplaas en voor haar ouers opgetree, wat sy vandag nog doen. “Michaela is ook baie lief vir die Eisteddfod in Voordrag, waarvoor sy met elke deelname cum laude ontvang het. Sy dans en sing ook graag.”

Haar ouers weet nie waar haar voorliefde vir toneelspel vandaan kom nie, maar het vroeg besef sy is gebore daarmee. Hulle noem haar juis hul “drama queen”, spot haar ma.

Haar ouers is ongelooflik trots op haar en wens haar groot sukses toe in haar drome om eendag ’n aktrise te wees.

Ná afloop van Via se Speeltoneel-oudisies, is sy gevra om ’n toneelkursus by te woon om in aanmerking te kom vir kortfilms wat op die kanaal verskyn.

Die kursus, wat R15 000 kos, het reeds in Februarie begin en duur tot Mei.

Die Thiarts is dankbaar vir die eerste maand se skenkings wat hulle ontvang het om Michaela se drome te help waar word. Die kursus behels weeklikse aanlyn klasse en verskillende opdragte wat uitgevoer moet word.

Die kursusgangers het ook maandeliks ’n werksessie in Melkbosstrand saam met hul mentor.

Michaela se mentor is Vilje Maritz, maar bieg dat sy nie sou omgee as dit sy pa, Albert Maritz, van wie sy ’n groot aanhanger is, was nie.

Mense wat met skenkings wil help, kan Samantha Thiart by 062 520 9851 bel vir meer besonderhede.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.