Lede van die nasionale seereddingsinstituut (NSRI), menseredders, noodhulppersoneel en die plaaslike polisie het die afgelope feestyd en skoolvakansie bont gestaan ná ’n ontstellende groot aantal noodlottige én nie-noodlottige watervoorvalle reg oor die land.
Terselfdertyd het menseredders ook daarin geslaag om honderde mense se lewe te red deur suksesvolle ingryping by die strande waar hulle aan diens was.
Die Swartlandse kusdorp Yzerfontein het op sy beurt vanjaar een van die besigste vakansieseisoene in ’n lang tyd ervaar met ’n groot aantal besoekers op die strand, vertel Junré Marais van die NSRI se Stasie 34. “Persoonlik is dit een van die besigste vakansies wat ek al op Yzerfontein beleef het wat die aantal besoekers op die strand betref, en ons was baie gelukkig met min voorvalle,” sê Marais.
Hy vertel buiten die walvis wat op 14 Desember verstrengel geraak en deur bemanningslede vrygelaat moes word, het slegs twee ernstige voorvalle onder strandgangers in die see voorgekom.
’n Man van 64 het op 27 Desember in die moeilikheid beland toe hy langs Schaapeneiland gaan swem het. “Ons reddingsboot (Sonja), met twee bemanningslede aan boord, het hom uit die water gehelp en teruggebring land toe, waar ons hom vir hipotermie behandel het.”
Die ander voorval was ’n tienermeisie wat op 30 Desember deur haar lyfplank beseer is. Sy is deur menseredders van See en Sand, wat ten tyde van die voorval aan diens was, bygestaan. Sy het later toe NSRI-lede aankom, geen verdere hulp benodig nie.
Swartland se brand en reddingsdienste het ook gereageer ná ’n oproep van ’n besoeker wat amper by Gansekraal verdrink het. Die swemmer het die voorval gelukkig oorleef.
Ander noodvoorvalle sluit in iemand wat ’n hartaanval gehad het, en ’n vakansieganger wat verstik het. Die voorvalle het buite die see plaasgevind.
Die instituut het egter verlede week luidens ’n verklaring ’n beroep op mense wat die kus, damme of riviere besoek, gedoen om altyd veiligheid in en om die water eerste te stel. “Ouers is verantwoordelik om seker te maak dat ’n verantwoordelike volwassene wat kan swem, teenwoordig is wanneer kinders in die water is,” lui die verklaring.
Volgens Marais het die teenwoordigheid van die plaaslike wetstoepassers op en langs Yzerfontein se strand vanjaar grootliks bygedra tot meer verantwoordelike gedrag deur strandgangers.
Lede van die NSRI in Yzerfontein het hul dankbaarheid teenoor die wetstoepassers uitgespreek vir die werk wat hulle die vakansie gedoen het.