Kanolaprodusente in die Wes-Kaap gaan vanjaar na verwagting 20 000 hektaar meer aanplant as in die vorige jaar.
Só vertel Johan Pyper, landboukundige van die maatskappy, Southern Oil (Soill) ná voorlopige projeksies oor hoeveel hektaar kanola vanjaar aangeplant sal word, gedoen is.
Daar was verlede jaar 100 000 ha kanola in die Wes-Kaap geplant, terwyl 26 000 ha daarvan in die Swartland aangeplant was.
Volgens Pyper, ook verteenwoordiger van produsente in die Swartland, is boere baie optimisties oor vanjaar se seisoen. Hy verduidelik ook dat die waarde van olie nou baie hoog is nadat die verwagte prysstygings aan die einde van Maart gerealiseer het en natuurlik ’n groot rol speel wanneer dit kom by die aantal hektare wat produsente sal plant. Baie produsente plant ook kanola as deel van hul wisselboustelsel.
Geskatte aanplantings volgens die Nasionale Oesskattingskommitee (NOK), stem ook min of meer ooreen.
Volgens die mees onlangse vrystelling van verwagte aanplantings onder wintergewasse wat op 26 April uitgereik is, dui vroeë aanduidings daarop dat produsente na voorneme is om sowat 119 500 hektaar kanola in die Wes-Kaap aan te plant.
Hoewel plaaslike produsente nog nie reën ontvang het nie, is dit normaal om gedurende einde April al kanola te plant, voeg Pyper by.
Boere het ook reeds met aanplantings van weidings en koring begin.
Die druk op kanolaprodusente rakende die aanvanklike tekort aan saad, is ook byna iets van die verlede.
“Daar is steeds ’n mate van ’n tekort aan saad,” sê Pyper.
Hy verduidelik dat kanolasaad wat in Suid-Afrika geplant word, vanuit Australië ingevoer word. “As gevolg van hul baie goeie en uitgerekte kanolaseisoen danksy gunstige toestande, was daar minder tyd om die saad betyds hier te kry.”
Saadverskaffingsmaatskappye het vroeër met die nasionale departement van landbou vergader in ’n poging om skepe wat kanolasaad vervoer, toegang tot die plaaslike hawens te gee en te bewerkstellig dat vraghouers wat kanolasaad vervoer, uit kan gaan.
Toit Wessels van Graan SA het ook bevestig dat ’n skip met kanolasaad verlede week gearriveer het.
Pyper voeg by dat die afgelope vloede in Durban weer saad wat daar aangekom het, vertraag het. Hoewel baie van die boere saad terughou, bly dit maar ’n risiko om sodanige saad te plant.
Volgens die NOK, dui alle voornemens daarop dat produsente vanjaar 350 000 ha koring in die Wes-Kaap sal aanplant.
Wessels meen toestande vir koringprodusente was nog verlede week nie gunstig om te plant nie.
“Boere hou daarvan om in óf nat óf droë toestande te plant, maar nie tussenin nie. Die gevaar hier is dat sekere sade kan ontkiem terwyl ander nie ontkiem nie. Boere soek nou reën sodat onkruid kan ontkiem en weer doodgespuit kan word met naopkomsmiddels.”
Volgens plaaslike produsente sal vooropkomsmiddels gespuit word wanneer dit nie betyds reën nie.
Hoewel produsente reeds aan die plant is, sal die meeste boere van vandeesweek af begin koring plant.
Wessels sê verder die vogtoestande van Meimaand sal bepalend wees in die opnames van verwagte hoeveelheid hektaar koring wat in die streek aangeplant word, maar daar word verwag dat vanjaar se hoeveelheid aanplantings (hektaar) ooreenstem met die hoeveelheid hektaar wat verlede jaar aangeplant is.
Produsente het reeds in April begin plant. Daar is baie droë gebiede, maar die meeste produsente sou van 2 Mei af wegtrek.
Volgens Wessels sal hulle teen 20 Junie ’n beter idee hê van hoeveel hektaar aangeplant is.
Johan de Lange, Kaap Agri se afdelingshoof vir dienste en verbouings sê hoewel daar nog besig is met opnames om te bepaal hoeveel hektaar koring vanjaar in die streek geplant gaan word aangesien produsente reeds aan die plant is, is hy eens dat daar na verwagting dieselfde hoeveelheid koring aangeplant sal word as verlede jaar.