In Januarie vanjaar is 70% meer gevalle van diarree by kinders jonger as vyf by die Stad Kaapstad se klinieke aangemeld as in Januarie verlede jaar.
Gewoonlik kom meer gevalle van diarree asook longontsteking in die warmer maande tussen November en Mei voor, wat beide deur virusse en bakterieë veroorsaak kan word.
Patricia van der Ross, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskaps- en gesondheidsdienste, sê die baie warm toestande het bygedra tot die merkbare styging in die aantal kinders met simptome van diarree, braking en ontwatering en wat na klinieke gebring word.
Die Stad se klinieke het in Januarie 2 908 gevalle hanteer teenoor 1 710 in Januarie verlede jaar.
“Ons is nog nie halfpad deur die seisoen nie en die getalle lyk kommerwekkend. Hierdie siektes is die grootste gesondheidsrisiko’s vir kinders, maar kan behandel en voorkom word. Ek moedig ouers en versorgers aan om met higiënemaatreëls vol te hou en dadelik by hul naaste kliniek hulp te kry as hulle enige simptome waarneem,” sê Van der Ross.
“Om hande te was, is belangrik, maar maak ook seker bottels/tiete en eetgerei is skoon voordat kinders gevoed word.
“Vuil hande kan virusse oordra en warm weer kan kos vinniger laat sleg word, wat ook diarree kan veroorsaak en tot ontwatering kan lei,” waarsku sy. “Goeie higiëne is belangrik by die voorbereiding en bêre van kos. Was hande met seep en water nadat die toilet besoek is en nadat die baba se doek omgeruil is.
Rehidrasie-mengsel: Kook een liter water en laat dit afkoel. Voeg agt teelepels suiker en ’n halwe teelepel sout by.
Ná ’n kind se eerste losserige stoelgang kan klein slukkies van die mengsel gereeld vir die kind gegee word. As die kind opgooi, wag eers 10 minute en gee dan weer. Gee ’n klein bietjie op ’n slag.
Hou vol met borsvoeding en gee klein, gereelde maaltye.
Diarree kan 48 tot 72 uur duur. Versorg eerder die kind tuis as om hulle crèche of skool toe te stuur.
Babas wat selfs net ’n klein hoeveelheid vloeistof in waterige stoelgang verloor, kan maklik ontwater. Ontwatering (dehidrasie) kan lewensgevaarlik wees. Soek dadelik hulp vir diarree. Moenie wag totdat ’n kind tekens van ontwatering toon nie, soos: . weier om enige vloeistof in te neem of te borsvoed;. gooi alle vloeistof op nadat dit gedrink is; of. bloed in die kind se stoelgang.