Meer brande aangemeld

Die Swartland-munisipaliteit het sy kommer uitgespreek ná ’n skerp toename in struktuurbrande die afgelope paar weke in die Swartland-gebied.


Die Swartland-munisipaliteit het sy kommer uitgespreek ná ’n skerp toename in struktuurbrande die afgelope paar weke in die Swartland-gebied.

Volgens ’n verklaring van die munisipaliteit het verskeie slagoffers “alles verloor en moes [hulle] toekyk hoe ’n leeftyd se harde werk binne minute in puin gelê word”.

Die munisipaliteit se nooddienste is sedert 1 Mei na minstens vyf struktuurbrande ontbied.

“Dit is kommerwekkend dat meer brande in twee weke as die maandelikse gemiddelde aangemeld is,” verduidelik Harold Cleophas, die uitvoerende burgemeester.

“Ons is dankbaar geen lewensverlies is tot nou aangemeld nie. Dit blyk dat die gereelde beurtkrag, veral in die aand, asook die kouer weer, ’n impak op die toename in struktuurbrande het.

“Baie inwoners is in die winter en gedurende beurtkrag binne hul wonings van oop vlamme afhanklik vir lig, hitte en om kos gaar te maak.

“Alle oop vlamme moet egter te alle tye as ’n brandgevaar geag word en moet uiters versigtig hanteer word.”

Inwoners word gemaan om uiters versigtig te wees wanneer hulle met kerse, gasstowe, parafienstowe en/of vure werk.

Moet nooit:. kerse of enige oop vlamme sonder toesig los nie;. kerse of enige vlamme naby gordyne of beddegoed of papier, soos koerante, bring nie;. kerse, of enige oop vlamme alleen los by kinders of troeteldiere nie;. gaan slaap voordat jy nie seker is al die vlamme en vure is geblus nie; . elektriese koorde/proppe oorlaai nie.

“Ons wil u aanmoedig om basiese veiligheidsmaatreëls in te stel wanneer en indien u met oop vure en vlamme werk. Hou ’n brandblusser, wat by enige hardeware gekoop kan word, in u woning en maak seker al die inwoners weet hoe om dit te gebruik. U kan ook ’n emmer sand of water byderhand hou.

“Moenie wag om die brandweer te bel nie, selfs al lyk die brand klein. Die noodnommer is 022 487 9400. Stoor die nommer op die foon en plak dit ook by die telefoon op sodat dit maklik sigbaar is. Leer die nommer ook vir u kinders,” maan Cleophas.

Cleophas sê die hele gemeenskap moet saamwerk om seker te maak geen lewe word verloor en huis vernietig weens ’n brand nie. “Wees almal saam bewus van die brandrisiko’s en help om mekaar veilig te hou.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.