Matthee sit tone in ys

Wat gebeur as ’n derdejaarstudent aan die Universiteit Stellenbosch na ’n lesing oor die SA Agulhas II luister – veral as hierdie student in meganiese ingenieurswese reeds geïnteresseerd is in feite rakende Antarktika?.


Wat gebeur as ’n derdejaarstudent aan die Universiteit Stellenbosch na ’n lesing oor die SA Agulhas II luister – veral as hierdie student in meganiese ingenieurswese reeds geïnteresseerd is in feite rakende Antarktika?

Hy raak só gefassineer en doen gereeld in sy vrye tyd navorsing oor hierdie poolnavorsingskip en raak uiteindelik deel van SA Agulhas II se twee navorsingsekspedisies op soek na ’n verlore skeepswrak naby die kus van Antarktika.

Dít is die verhaal van James-John Matthee, die 26-jarige boorling van Malmesbury, wat dáár was toe ’n span internasionale navorsers op 5 Maart die Endurance opgespoor het – die wrak van Ernest Shackleton se baanbrekerskip wat 107 jaar gelede onder pak-ys verdwyn het.

James-John se navorsing vir die eerste ekspedisie het oor vibrasie- en klank-analise gegaan onder leiding van prof. Annie Bekker van die Universiteit Stellenbosch.

“Ek werk nou spesifiek aan ’n roetebeplanningsalgoritme, wat die navigasieroete van punt A na punt B in verskillende ys-toestande beplan. Om te weet hoe die skip oor die laaste 10 jaar deur verskillende ys-toestande beweeg het, kan ons satellietfoto’s gebruik om nuwe paaie deur die ys te beplan, wat tyd, brandstof en risiko verminder.

“Dink daaraan as ’n program soos GPS, wat kan voorspel watter roete jy deur die ys moet neem.

“Ek werk nog nie lank aan hierdie navorsing nie, maar hierdie ekspedisie was ’n gulde geleentheid om die algoritme te beproef.

“Toe die skeepswrak gevind is, kon ek dit amper nie glo nie. Ons het 17 dae lank hoopvol gesoek; die hoogsontwikkelde kameras het ’n gebied groter as Kaapstad gefynkam voordat die wrak op ’n diepte van 3 008 m gevind is. Dit was ’n kwessie van tyd voordat ons die soektog sou moes prysgee en weer deur die ys breek om nie vas te sit soos die Shackleton in 1915 nie. Almal was baie verlig oor die vonds en moes dit eers met hul eie oë sien.

“Die wrak is steeds in ’n uitstekende toestand; ’n mens kon die letters ‘Endurance’ met die vyfster-Polaris-embleem onderaan sien. Ek kon die venstertjie van Sir Ernest Shackleton sien, die anker, stuurwiel en selfs skoene en eetgerei wat nog op die dek lê. Dis asof die skip twee weke gelede gesink het!”

Al moes die avonturiers verlede naweek tydens hul terugrit ’n seestorm met reusegolwe trotseer, besef hy elke oomblik watter groot voorreg hy beleef: “Minder as ’n handvol skepe kon al in die Weddell-see vaar – ons kon 18 dae daar werk. Ons kon waardevolle data op die ys insamel, insluitend sneeuval en ys-karaktereienskappe in hierdie gebied, wat ons ’n beter insig gee oor die veranderlike ys-konsentrasie in die Weddell-see. Hierdie is ’n besondere ekspedisie om die tegnologie van die 21ste eeu tot die uiterste te beproef.”

James-John herinner homself gereeld aan sy derdejaarsoortuiging toe hy gedink het dit sou goed genoeg wees om slegs ’n rukkie in die Kaapstad-hawe op ’n skip wat al in Antarktika was, te kon werk. “Nou kon ek danksy SA Agulhas II die perfekte voorbeeld beleef van die 21ste eeu waar mens [en] masjien kan saamwerk.

“Ons moes baie op die ys werk, en daar was dae van uiterste koue (-5 grade Celsius). ’n Mens kon nie meer die skip sien as jy 200 meter wegstap nie. Natuurlik berei jy jou goed op die koue voor en genoeg lae klere help.

“In die Weddell-see is jou grootste vyand vandag nog, soos in Shackleton se tyd, die ys. Ons het beplan om by die wrak te wees tydens die ys-minimum van die jaar, maar die seisoen draai vinnig en toe ons daar wegtrek, was daar reeds baie meer ys as 18 dae tevore.

“Iets wat my sal bybly, is die natuurskoon. Dis regtig ongerep, met soveel pikkewyne, walvisse en robbe wat rondom jou baljaar.

“Dit was ’n voorreg om my tone vir ’n sekonde of wat in die see van geskiedenis te kon dompel. Om te weet ons dryf bo die wrak van een van die bekendste avonturiers van die vorige eeu en die skeepswrak te kon sien, sal ek altyd onthou. Ter afsluiting het ons foto’s van die Endurance op Ernest Shackleton se graf in Suid-Georgië (South Georgia) gaan plaas – 100 jaar nadat hy daar begrawe is.”

James-John was in 2008 hoofseun van die Laerskool Swartland en het sy graad in meganiese ingenieurswese in 2018 verwerf. Hy werk tans vir Nanodyn System, ’n Stellenbosse maatskappy wat bedryfsprosesse verbeter en vervolmaak.. Sir Ernest Shackleton was op pad na Antarktika toe die Endurance in 1915 deur pak-ys vasgevang is. Die SA Agulhas II kom Saterdag in die Kaapstad-hawe aan.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.