Grafte by die plaaslike begraafplaas in Malmesbury is onlangs deur inwoners netjies gemaak.


Abduraghmaan Allie (36), beter bekend as Manie, het met die intrapslag van die nuwe jaar sy fokus na die plaaslike begraafplaas in Schoonspruitweg gedraai deur die terrein en grafte op te knap en weer netjies te maak.

Allie, ’n bekende in die gemeenskap as iemand wat nie skroom om ’n helpende hand na ander uit te reik nie, meen ’n begraafplaas is almal se laaste tuiste. Volgens hom behoort die mense wat daar begrawe word, nooit vergeet te word nie. Hy wou die jaar met ’n projek inlui wat betekenisvol is – skaars ’n paar weke nadat 2024 vir ’n derde agtereenvolgende jaar op ’n hoë noot afgesluit is danksy ’n suksesvolle Kersete wat hy en die gemeenskap vir die hawelose inwoners van Malmesbury aangebied het.

“Ek het begin dink oor my eerste projek vir die jaar en besef my ma is in die begraafplaas begrawe; so ook my pa en familielede.” Allie het ongeag die hitte besluit om op te staan, ’n span bymekaar te kry en hul weg na die begraafplaas gevind. Met hul aankoms het hy gesien daar lê baie werk voor. Allie en sy helpers het dadelik ingespring en vir vier dae lank gewerk totdat hy tevrede was.

Allie het onder meer sand gekry om die grafte waarvan die bolae deur die vorige jaar se swaar reën weggespoel het, weer op te vul en mooi te maak. Takke, blare en rommel is ook verwyder.

Hy beskryf dit as ’n voorreg om te help waar hy kan – ’n roeping wat reeds tien jaar gelede met ’n plaaslike buurtwag begin het om huisbrake onder inwoners te help bekamp. Allie het egter sowat drie jaar gelede begin om dieper te delf en projekte met behulp van vriende en familie tot voordeel van die gemeenskap uit te voer. Allie werk ook nou saam met die polisie. Wanneer hy nie aan sy projekte skaaf of wegneemetes vir sy onderneming voorberei nie, help hy die polisie elke aand. “Ek begin saans 18:00 tot sowat 04:00 die oggend en slaap vir twee ure totdat dit tyd is om my kitskosonderneming vir my klante oop te sluit. Ek het ’n liefde opgebou vir die gemeenskap en wou baie graag destyds [meer vir hulle] gedoen het. As ek nie kan gee nie, maak ek ’n plan. Alles wat ek aanpak, kom uit die diepte van my hart – eendag sal God my paaie oopmaak.”

Met sy volgende projek beoog Allie en sy span om inwoners met ’n warm ete te voorsien. Hy nooi enigiemand wat graag ’n bydrae wil lewer of betrokke wil raak, om hom by 083 559 3792 te kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.