Die vermeende verdagte wat na bewering by die onlangse onthulling van ’n versteekte en boonop onwettige arsenaal verskillende kaliber vuurwapens en ’n groot hoeveelheid ammunisie betrokke is, word steeds aangehou.

Die verdagte, Thomas Henke, wat sowat twee weke gelede in hegtenis geneem is in verband met dié onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, het verlede Maandag weer in die Malmesbury-landdroshof verskyn. Dié inwoner van Duitse herkoms het die betrokke vuurwapens en ammunisie glo in ’n stoor in Schoonspruitweg, wat hy na bewering ’n geruime tyd reeds huur, versteek. ’n Verdere aantal onwettige vuurwapens en ammunisie is volgens die polisie by sy woning in die Tierfontein-omgewing ontdek.

Die verdagte se regsverteenwoordiging is in hierdie stadium nog nie gefinaliseer nie. Die hof het gevra dat die verdagte in aanhouding bly. Hy is volgens die plaaslike polisie ook vasbeslote om sy eie private prokureur aan te stel en nie gebruik te maak van die regshulp wat hy aangebied is nie. – Charlotte Lesch

You need to be Logged In to leave a comment.