’n 38-Jarige man is onlangs glo blind gelaat nadat hy met suur in die gesig gegooi is toe hy ’n vrou probeer beskerm het. Die plaaslike polisie op Malmesbury het sowat twee weke gelede omstreeks 22:30 op die voorval in Ilingelethu gereageer waartydens Unathi Bisiwe aangeval is.
Bisiwe het volgens ooggetuies opgetree toe die vermeende verdagte sy meisie met ’n hamer wou slaan. Die verdagte, ’n Malawiër, het die toneel verlaat en met ’n houer suur teruggekeer wat hy na bewering in die slagoffer se gesig gegooi het. Die verdagte het van die toneel te voet gevlug, terwyl Bisiwe na die Swartland-hospitaal geneem is. Hy is later weens ernstige beserings na Tygerberg-hospitaal oorgeplaas. Laticia Pienaar, provinsiale kommunikasiebeampte by Tygerberg-hospitaal, het bevestig dat die pasiënt, Bisiwe, wel by die hospitaal behandel word vir sy beserings. “Sy toestand is onbevredigend en hy word tans vir erge brandwonde behandel,” sê sy.
Inwoners het intussen besluit om gereg in eie hande te neem en na die aanvaller te soek. Hy is later in Riebeek-Wes aangekeer en terug na Malmesbury geneem waartydens hy op sy beurt deur inwoners aangeval en volgens ooggetuies met klippe bestook is. Die verdagte is na die Swartland-hospitaal geneem en kort daarna ook na Tygerberg-hospitaal oorgeplaas.
Die voorval word tans deur die plaaslike polisie ondersoek, hoewel geen amptelike klag teen die verdagte ingedien is nie. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
In ’n afsonderlike voorval, is ’n plaaslike inwoner van Wesbank, die afgelope Saterdagaand doodgeskiet. Die Malmesbury-polisie het op ’n klagte oor ’n skietvoorval gereageer en na die toneel gehaas. ’n Man, later geïdentifiseer as Maxwell Maarman (22), is in Hibuskusstraat in sy gesig geskiet. Maarman is na die Swartland-hospitaal geneem waar hy later aan sy beserings beswyk het. Die plaaslike polisie ondersoek tans ’n klag van moord. Die polisie doen ’n beroep op inwoners om na vore te kom indien enigiemand meer inligting rakende die voorval het. Sers. Criszelle Januarie kan by 022 482 7500 gebel word.