Volgens sers. Henry du Randt, ’n polisiewoordvoerder, het lede van Malmesbury- en Riebeek-Wes-polisie met die hulp van Swartland se verkeer- en wetstoepassingseenheid ’n lasbrief by die verdagte se huis in Meerendalstraat uitgevoer. Du Randt sê die verdagte, wat glo berug is, is deur polisie- en verkeersbeamptes agternagesit toe hy verby hulle gery het. ’n Hoëspoed-jaagtog het gevolg tot by die man se huis, waar hy polisielede toegang tot sy erf geweier het.
Die hulp van die Boland-polisie en Swartland-verkeer se K9 honde-eenheid is ingewin om met die soektog te help. Altesaam 25 sakkies tik (8,25 g), 38 halwe Mandrax-tablette (32,20 g), 326 stoppe dagga en ’n swart vullissak met los dagga is binne en buite die huis gevind.