Malmesbury is die afgelope week deur drie moorde, wat binne drie dae plaasgevind het, geruk.

Maandag 23 Mei omstreeks 06:10 is die polisie na Hopefieldstraat in Chatsworth ontbied, waar die lewelose liggaam van die 31-jarige Andrew Blignaut aangetref is.

Volgens getuies was Blignaut en sy vriendin op pad na die bushalte, waar hy die bus sou haal om werk toe te gaan. “Op pad het hy en sy meisie voetstappe agter hulle gehoor, en met die omkyk is die eerste skoot afgevuur, wat hom in die nek getref het,” het sers. Henry du Rand, ’n polisiewoordvoerder, gesê. ’n Tweede skoot is afgevuur waar Blignaut op die grond gelê het.

Drie verdagtes het te voet gevlug en is steeds soek. Die vriendin is ongedeerd. Die polisie vra die hulp van die publiek vir enige inligting wat tot die inhegtenisneming van die verdagtes kan lei. Bel sers. Elton Bartlett van die Malmesbury-polisie by 022 482 7500.

In die tweede voorval is die polisie Donderdagoggend (26 Mei) omstreeks 01:55 na ’n toneel by 9de Laan 1227, Chatsworth, waar die 28-jarige Lindie Claasen met ’n skietwond in die kop aangetref is. Sy is deur nooddienspersoneel na die Swartland-hospitaal vervoer, waar sy later aan haar wonde beswyk het. Die polisie ondersoek ’n klag van moord en die gemeenskap word weer eens gevra om enige inligting, wat die polisie op die skuldiges se spoor kan sit, met sers. Bartlett te deel.

Ook Donderdag, terwyl die polisie nog besig was met die skietvoorval in Chatsworth, is ’n oproep ontvang oor ’n lewelose liggaam in ’n skrootwerf in Wesbank, Malmesbury. Volgens du Rand is die liggaam van die 31-jarige Elton Markus op die toneel aangetref, waar hy deur mediese personeel dood verklaar is. Markus is na bewering wreed vermoor. Hy het veelvoudige steek- en kapwonde aan sy lyf gehad. Twee verdagtes is later die dag deur die polisie in verband met die moord aangekeer en sal binnekort in die Malmesbury-landdroshof op aanklag van moord verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.