Die lang verwagte sooispit-geleentheid van De Zwartland Werf in Malmesbury het die afgelope Vrydag op die perseel waar die ontwikkeling gaan kom, plaasgevind.
De Zwartland Werf is ’n trotse ontwikkeling deur die Devmark-eiendomsgroep langs die N7-snelweg en die plaaslike landbou-skouterrein.
Die ontwikkeling sluit nie net ’n winkelsentrum in nie, maar ook woonstel- en kantoorruimte, ’n plaaslike motorhandelaar se vertoonlokaal en ’n private hospitaal in.
Hein Ehlers, stigter en uitvoerende hoof van die Devmark-eiendomsgroep en ander lede het die spesiale geleentheid saam met die Swartland-munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, Herold Cleophas, sowel as Tijmen van Essen, ’n burgemeesterskomiteelid, Joggie Scholtz, die munisipale bestuurder en ander amptenare bygewoon.
Die span van die plaaslike Toyota-motorhandelaar en ander betrokkenes by die ontwikkeling was ook teenwoordig om die geleentheid te vier.
Ehlers het die span van die Swartland-munisipaliteit geloof vir hul puik samewerking en hulle bedank vir hul professionaliteit en harde werk.
Cleophas het op sy beurt gesê ’n sterk ekonomiese ontwikkeling huisves sterk en gesonde gemeenskappe en dit is daarom belangrik om nuwe ontwikkeling na die omgewing te lok. “Swartland must be your destination of choice. Dit is die plek om te woon, te werk en te floreer.” Hy het die eiendomsgroep bedank vir die ekonomiese inspuiting wat hulle na Malmesbury bring.
Grondverskuiwings is reeds op die perseel aan die gang, terwyl bouwerk later vanjaar sal begin.