’n Nuwe aktualiteitsprogram op televisie beeld die mense uit wat werklik ’n verskil in Macassar maak.
Macassar Our Pride, wat weekliks op StarSat DStv kanaal 246 uitsaai, het onlangs twee plaaslike ateljeegaste gehad – Julian Keet, ’n afgetrede onderwyser, en Amanda van Wyk, ’n sakevrou.
Julian het in 2021 ná 36 jaar as opvoeder by Hoërskool Macassar afgetree.
Hy het hom in 1986 by die skool as 20-jarige aangesluit en onthou nog hoe hy – getooi in sy UWK-baadjie – opgedaag het en deur een van sy medeonderwysers, wat gedink het hy is ’n leerder, saal toe gejaag is.
Julian het aanvanklik Bybelkunde en aardrykskunde as vakke aangebied. Hy is destyds ingelig dat die skool ’n dringende behoefte vir ’n biologieonderwyser het. Hy het sy studies voortgesit en homself as onderwyser in dié vak bekwaam.
Hy is as die derde jongste van agt kinders in Kylemore, buite Stellenbosch, gebore en vertel die 1976-onluste het sy oë laat oopgaan nadat hy in sy skoolloopbaan asook sy studiejare aan al die groot boikotte blootgestel was. Hy het later ’n intense passie ontwikkel vir mense wat onderdruk is en die sosio-ekonomiese omstandighede waarin hul hulself bevind.
Julian sê hy het destyds besluit om onderwys te studeer omdat bruinmense beperkte beroepskeuses gehad het.
“Rigtings soos die regte en ekonomie was eksklusief vir ’n sekere groep. Bruinmense moes dus loopbaankeuses soos verpleging of onderwys volg. Van my ouer sibbe het onderwys studeer, en dit het ’n groot invloed op my beroepskeuse gehad.”
Julian was ook by rugby-afrigting betrokke.
Hy het ook leerders as deel van die skool se geografie-vereniging op staproetes vergesel.
Sy liefde vir die natuur het in Kylemore ontstaan en, volgens hom, is Macassar een van die min dorpe wat so mooi ekostelsel het wat vleilande, duine en die riviermond insluit.
Hy sien homself nie net as ’n onderwyser nie, maar ook ’n omgewingsaktivis.
Julian beplan geensins om agteroor te sit nie en beplan om jongmense in samewerking met Macassar Our Pride op uitstappies in die berge te neem. Hy sê talle roetes bestaan, wat hy bereid is om aan te pak.
Amanda van Wyk, die tweede ateljeegas, is geensins naasbeste as dit by die suksesse wat sy al in haar lewe behaal het, kom nie.
Sy het haar onderneming, Upperroom Café, se deure in 2020 geopen.
Sy het eers as kelnerin by verskeie restaurante gewerk en sê dis ironies dat sy as kelner gewerk het, maar as kok – haar passie – nie.
Haar restaurant is intiem met tuisgemaakte houtmeubels – alles die handewerk van haar man, Simon.
Amanda is ’n boorling van Macassar, waar sy ook haar skoolloopbaan voltooi het.
Een van die gewildste geregte op haar spyskaart is kaaskoek, maar natuurlik is sy ook bekend vir haar roosterkoek.
Haar onderneming se idee het ontstaan nadat sy gereeld spyseniering vir haar vriende gedoen het.
Amanda sê Upperroom Café se naam het ontstaan deurdat sy deur ’n teksvers in die Bybel geïnspireer is. Sy is ook ’n sameroeper vir ’n gebed-groep.
Sy beplan om plaveisel op haar hele perseel aan te bring en wil ook binnekort ’n verdieping hoër laat bou sodat die Upperroom Café sy naam gestand kan doen.
Clive Jefthas, die voorsitter van Macassar Our Pride, sê die oogmerk van die program is om gewone mense die geleentheid te bied om hul stories te vertel – “mense wat in hul beskeidenheid hul deel tot die vooruitgang van ons gemeenskap bydra.”