Maak jou eie planne wanneer Eskom krag afsit

Ketels, televisieskerms en rekenaars maak dit vir baie moeilik om sonder elektrisiteit klaar te kom, maar daar is ’n manier om nie in die duister te wees tydens beurtkrag nie.


Ketels, televisieskerms en rekenaars maak dit vir baie moeilik om sonder elektrisiteit klaar te kom, maar daar is ’n manier om nie in die duister te wees tydens beurtkrag nie.

Danksy die onlangse dae van beurtkrag, en die dreigende bedreiging van Eskom wat altyd om die draai is, is hier wenke om te help:

Die regte toerusting sal help

. Elektrisiteit wat afgaan, is een probleem, maar elektrisiteit wat skielik weer aangaan, is ’n ander. Spanningsbeskermers is dus jou beste vriend. Wanneer die elektrisiteit terugkeer, kan elektriese kragstuwings voorkom. Dit beteken toestelle kan skade ly. Spanningsbeskermers is relatief goedkoop en sal die gevaar verminder dat kragstuwings kosbare toerusting beskadig.

. Die eerste prys tydens beurtkrag is ’n kragopwekker en/of UPS. Dié alternatiewe elektrisiteitbronne is egter duur en met die brandstofprys wat gereeld styg, is dit belangrik om die koste van brandstof ook in ag te neem. ’n UPS, oftewel “uninterruptible power supply”, kan deesdae by groot handelaars verkry word en is veral nuttig vir mense wat van die huis af werk.

. Hou die ligte aan selfs tydens beurtkrag deur sonkrag-aangedrewe noodligte of ’n ligdiode-lantern (LED) byderhand te hou. ’n Kers werk ook natuurlik goed. Maak seker jou ligte en kerse – en aanstekers – is op ’n spesifieke plek waar dit maklik gevind kan word.

. Min dinge is so frustrerend as om honger en dors in die donker te sit. Beurtkrag-vlakke kan dag tot dag, soms uur tot uur, verander, so die kans bestaan jy kan voor etenstyd elektrisiteit-loos wees. Oorweeg ’n klein, dog kragtige, kooktoestel soos ’n sonstoof of ’n tweeplaatgasstoof. Maak seker om ’n termosfles vol kookwater te maak voordat beurtkrag begin.

Kragloos beteken nie werkloos nie

Indien jy van die huis af werk of skoolwerk moet doen, moet jy maar vooruit beplan vir daardie beurtkrag-ure.

Met ’n gelaaide battery vir skootrekenaars, selfone of tablette kan jy dit dalk deur die beurtkraggleuf oorleef. Onthou net om jou toestelle vroegtydig te laai. Indien jy jouself egter sonder dié elektriese toestelle bevind, is dit tyd om dalk jou studieboeke nader te trek vir ’n studiesessie terwyl werkers dalk die tyd kan gebruik om daardie onaangename papierwerk of administratiewe take af te handel.

Nog beter as dié idees is om te probeer om werk in “elektrisiteitsure” te voltooi sodat die kraglose ure nie ure van angs of kommer oor uitstaande werk is nie.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.