Dis alweer Augustus en kyk waar het die tyd gevlieg. Maar meer besonders, dis Vrouemaand, dié maand waar ons vroue vereer word vir die deel wat hul beteken het vir die land.
So sit en dink ek aan ’n vrou en wat by my opkom is sy is iemand met ’n ruggraat, dié een met deursettingsvermoë, met innerlike krag en moed om haar pad aan te durf.
Maar meer is sy besonders, ek sê jou, uitgesoekte goud meer as edelstene! Want jy sien, edelstene is baie skaars, dit word geslyp en gepoleer om aan die vereistes om ’n edelsteen genoem te word, te voldoen.
Vroue het die vermoë om dinge te kan verander, in jou huis en jou omgewing waar jy beweeg. Ons is breekbaar, maar val nie uitmekaar nie. Gaan soms gebuk onder moeilike omstandighede, maar sal nooit ingee nie.
En ja, baie van ons kan soms nie glo watter rykdom in ons opgesluit lê nie. Ons dink gewoonlik aan rykdom wat gepaard gaan met geld en om in weelde te leef en soms is ons verkeerd. Want dis juis dit wat binne jou opgesluit is wat die verskil kan maak. Jy as vrou kan ’n verskil maak in iemand anders se lewe. Het jy al gewonder hoekom jy juis deur omstandighede moet gaan, dis soms uiters sleg en jou geloof word tot die uiterste beproef, maar as jy anderkant uitkom dan verstaan jy eers die rede vir als.
Ek self moes al deur baie onaangename dinge in die lewe gaan. Dinge wat ek wens ek nooit moes deurgaan en as ek dit kon verhoed sou ek dit doen. Maar vandag kyk ek terug en besef die Here laat juis toe dat sulke dinge gebeur sodat jy ’n verskil in iemand se lewe kan maak.
Wil jy ’n verskil sien? Begin dan om die verskil te máák!